Saturday, 18 October 2025

 

Die Woordfees in Stellenbosch kook vanjaar! En die gesprekke oor boeke is super-gewild. Dit is ’n belewenis om die doenighede van die fees te ervaar.

Woensdagmiddag is die boek SJOE! bekendgestel, met Sophia van Taak as gespreksleier. En sy mag maar! Soms voel ’n skrywer nie gemaklik met die bemarking van ’n boek nie, asof dit beter sal wees om klaar te skryf en met die volgende weg te val. Om die bekendstelling en reklame aan ander oor te laat. Maar die boekebedryf en lesers verwag wêreldwyd van skrywers om op te tree – mens kan sê om konsert te hou! Soms is dit baie lekker. Soos Woensdag by die Woordfees. Dankie, Bibi Slippers, vir die gladde reëlings. 



 


Monday, 22 September 2025

SJOE! Ervarings van 'n leeftyd



KOMMENTAAR VAN DE WAAL STEYN
 

By die draai van die millenium was ons half geskok toe ons besef jy kan jou hele stel ensiklopedieë in die kas toesluit, want jy kan alles nou sien en soek op ’n CD-ROM-skyf – met foto's en alles.

Ons Gen-X’ers het ’n gesamentlike “Sjoe” geuiter oor dié vordering in aanlyn tegnologie. Van vroeg af het doemprofete op hul perdjies gespring en die dood van boeke aangekondig.

 

Hulle was nie heeltemal verkeerd nie. Kindles het gehelp vir die ergste pyn wat gekom het toe die boekbedryf opgetrip raak. Selfpublisering het ’n "ding" geword en het honderde boeke die lig laat sien waarvoor ons as lesers baie dankbaar is.

 

Die boekbedryf het so amper sy alie gesien, terwyl verkope getuimel het. Tegnologie het boeke probeer versmoor, en “Sjoe”, dit was amper.

 

Petrovna Metelerkamp het met haar nuwe boek, “Sjoe!”, belangstelling in lekker storievertelling in papierboekformaat terug op die voorste brander geplaas. En meer as dit, sy het sommer ook die WWW op inspirerende manier terug in sy hoek gebliksem.

Hoe doen sy dit? Soos sy skryf oor haar lewe as ’n joernalis, amper-boer en ontmoeter van internationale bedrogpleërs, kleur sy hierdie vinger-lek-lekker-stories in met QR-kodes wat die leser na ’n webtuiste neem om al die foto's te sien wat by daardie hoofstuk aansluit.

 

Sien, dit is nou omgekeer. Koop die papierweergawe van die boek en beleef hom saam met die digitale foto's.Dis amper soos die koerante wat Harry Potter gelees het waarin die foto's lewend was. Slaan “Sjoe!” oop en bevind jouself op perron 9 3/4 op pad na Hogwarts

 

Die koste-implikasies van op glanspapier druk en by die boek invoeg is so astronomies dat dit die koopprys van die boek ver buite die bereik van enige boekvraat se beursie sou plaas. Met hierdie meesterstuk van ’n boek saam met die foto's aanlyn skep Petrovna ’n nuwe geleentheid vir diegene wat foto's in hul boeke wil opneem.

“Sjoe!” baan ’n nuwe weg vir hedendaagse boeke. Een wat hopelik na meer verkope sal lei.

 

Ons het almal stories, maar glo dit vry, ons s'n is nie so interessant soos Petrovna s'n nie.

 

Lucas Maree het geskryf: “My kiekies is bewyse van die feit dat ek ook daar was, ’n prentjiekommentaar wat my beaam.”

 

Dankie Helga, Petrovna en Hemel&See vir jul harde werk om Afrikaans en boeke nuwe  fut te gee.

Wednesday, 5 May 2021

Etienne Leroux

 


Op soek na die regte prys om te vra vir ’n rare boek wat te koop is op ons Facebook-blad BOEKMARK, ontdek ek ’n heerlike moedswilligheid van Etienne Leroux!

Die titel van die rare boek is Die suiwerste Hugenoot is Jan Schoeman – hardeband, ’n faksimilee van Leroux se aantekeninge ter voorbereiding vir ’n roman wat in 1988 sou verskyn. Leroux is deur die Hugenotefeeskomitee gevra om dit te skryf ter viering van die Franse se koms, drie eeue tevore.

Volgens J.C. Kannemeyer in Leroux: ’n Lewe, is die skrywer deur die feeskomitee verseker hy kan skryf "wat en hoe hy wil, solank daar een of ander verband met die Hugenote is."

Hier volg Leroux se eerste sin: "Sy ma het hom bedonner om mt ’n fokken Duitser te trou wat ’n Katoliek is." 

.



Alibris.co.uk stel die waarde van die boek op R1 300. Op Amazon is die prys $49.

Sunday, 17 May 2020

JEANNE GOOSEN – HAAR BIOGRAFIE



Die stem van Jeanne Goosen – só bekend vir haar roman Ons is nie almal so nie, vir ’n Pawpaw vir my darling, digbundels en vele meer – was die afgelope dertien jaar stil. Maar sedert Desember verlede jaar word wyd en syd oor haar berig. Dit het begin met die publikasie van ’n versameling sêgoed met die tiel Los gedates. Daarna het ’n nuwe digbundel verskyn: Het jy geweet ek kan toor. En in Maart vanjaar die biografie ’n Lewe vol sinne. Daar is baie te vertelle oor die samestelling van ’n biografiese werk – soos benaderings wat kan wissel van streng akademies tot loslittige vertelstyl. Ek gesels in die video hierby oor die biografie van Jeanne Goosen.

Wednesday, 11 September 2019

Kreatiewe vure is aan die brand

Die kreatiewe vure is aan die brand - waar jy kyk, word daar geteken, geskilder, geskryf. Vir skrywers is sessies met kenners goud werd - en hier kom Rachelle Greeff met 'n blink aanbod: Skryfskool in die Swartland Vlakkerug is ’n familieplaas in die hart van die Swartland. Wanneer jy op die werf stop, kom die skaaphonde hallo sê – tensy hulle iewers op die plaas werk. Maak die motordeur oop, en jy ruik plaaskombuis. Kyk om jou, en jy wil alles afneem. Maar jy’s nie hier vir foto’s neem nie. As Dalene Matthee net na mooi bostonele gekyk het, het ons nie ’n Fiela gehad nie, en as Lodewyk G. du Plessis (Andries Buys) sy lyf net toeris gehou het, pleks van sy Chinese wedervaringe sorgvuldig verweef het in sy veelvuldigbekroonde roman, Die Dao van Daan van der Walt, was ons ’n Daan armer. Een van vanjaar se opwindendste Afrikaanse nuwelingskrywers, Lize Albertyn-du Toit (Die kinders van Spookwerwe, Human&Rousseau), woon op Vlakkerug. En dit is waar jy jou skryfspiere gaan ontwikkel, of versterk. Dis ’n afspraak met jouself. Goeie skryfwerk vereis ’n mate van talent, verbeelding en woordvaardigheid. Maar veral moet jy deursettingsvermoë en selfdissipline hê. Waar begin mens? Op Vlakkerug, 9 km buite Riebeek Wes (waarvan die laaste 3 km goeie grondpad is). Wanneer? 10 tot 14 Oktober 2019 Jy sal: Voorste plaaslike en buitelandse skryfwerk in Afrikaans en Engels bespreek; Gesels oor wat gehaltewerk van middelmatige pogings onderskei; Boekejoernalis Elna van der Merwe ontmoet; In die brein-gim op die woord-trapmeul klim; Insae kry in die fabrieksgeheime van top-wêreldskrywers; Vir Lize oor haar suksesvolle onlangse debuutroman uitvra; Storie-idees ontgin – en begin; Leer hoe om dieselfde onderwerp verskillend te plooi vir ’n roman, kortverhaal, meningstuk (rubriek), tydskrifstorie of radiodrama, en In die groep woeker, en ook op jou eentjie. Jy hoor ook Rachelle se wenke oor voorlegging aan die media en uitgewers, soos sy dit al vir bykans veertig jaar doen. Sy gee ook vir jou individuele terugvoering op jou werk, en antwoord al jou skryfvrae. Moenie verder lees as jy nie wil glo: Die herskryf van jou aanvanklike skryfwerk is net so noodsaaklik, en dikwels belangriker, as die eerste “kry dit op papier”. Dít is wat die Andries Buyse, Dalene Matthee’s en Karin Brynards van aspirantskrywers onderskei. Nie in die eerste plek IK, verbeelding, akademiese prestasie of genoeg tyd of geld om die wêreld te deurkruis nie. Is skryfervaring nodig om in aanmerking te kom? Die kursus se inhoud gaan deur die aansoeke bepaal word sodat almal se vaardigheidsvlakke min of meer dieselfde is. Die individuele terugvoering sal ook so wees dat elkeen die beste vir hom of haar uit die vier dae op Vlakkerug kry. Sluitingsdatum vir aansoeke: Maandag, 23 September 2019 Die kursus het plek vir net 8 deelnemers. Stel jy belang? Indien wel, antwoorde onderstaande 8 vrae en e-pos na storieplaas@gmail.com (1) Jou naam, van, selfoonnommer, e-posadres en ID-nommer; (2) ’n Lys van die laaste 10 boeke (fiksie of nie-fiksie) wat jy gelees het; (3) Het jy al gepubliseer? Ja? Vertel dan meer; (4) Indien nie, hoekom wil jy skryf? (5) En wat? (6) Skryf as stokperdjie, terapie of voltyds? (Aldrie, of in dié stadium geen, is ook in orde.) (7) Heg gerus ’n voorbeeld van jou skryfwerk aan. Dis opsioneel. Indien jy dit gaan doen, hou dit by 400 woorde, of minder. (8) Wil jy op die plaas oorbly of gaan jy vir jou eie verblyf sorg? Verblyf: Die plaas het ’n voormanshuis wat van tyd tot tyd gebruik word. Let wel: dis nié ’n werkende gastehuis nie. Dit het slaapplek vir 4. Dit het 1 badkamer met bad, stort en toilet wat gedeel word. (Hoe gouer jy aansoek doen, hoe groter is jou plaas-bly kans.) As jy nie op Vlakkerug gaan bly nie en nie van jou eie plek kan pendel nie, bespreek vroegtydig (vir jou eie koste) verblyf op een van die nabygeleë dorpe, Riebeek-Wes of Riebeek-Kasteel. Hier is ’n verskeidenheid oornagplekke. Kaapstad is sowat ’n uur ver. Venue: Die hoofplaashuis. Koste van kursus: R840 per persoon per dag. Dit sluit in lesingmateriaal, toegang tot drukgeriewe, ’n daaglikse (ligte) middagete en nie-alkoholiese drinkgoed deur die loop van die dag. Voormanshuisverblyfkoste: R100 p.p.p.dag. Dit is ten volle gemeubileer en het ’n volledig toegeruste kombuis. Kursusgangers wat hiervan gebruik maak,, sorg vir hulle eie ontbyt. Handdoeke en beddegoed word verskaf. Dié huis, enkele treë van die hoofhuis, het twee dubbelkamers (met dubbelbed elk) en een enkelkamer (twee enkelbeddens). Koste van plaaskombuis-aandete: Opsioneel. R60 p.p. Glas wyn ingesluit. Eie drinkgoed welkom. Bespreek ’n dag tevore met die kombuispersoneel. Deposito: Indien jy vir die kursus gekeur word, is ’n deposito van 30% van jou spesifieke pakket teen 30 September 2019 betaalbaar. Bankbesonderhede word dan verskaf. Die uitstaande balans is betaalbaar teen nie later nie as 10 Oktober 2019. Belangrik: As jy nie op die plaas bly nie, is jy vir jou eie verblyfreëlings en –koste verantwoordelik. Program: 09h00 – 12h30 Werkwinkel, lesing, groep- en individuele bespreking. 12h30 – 14h30 Middagete en individuele skryf- of leestyd. 14h30 – 17h00 Skryf, werk, lesing en terugvoering van Rachelle. 19h00 – Aandete in die plaashuis. Praat- en vraetyd. Intussen: Vlakkerug is in die hart van die Swartland waar debuutskrywer Lize Albertyn-du Toit die afgelope vier jaar gewerk het aan Die kinders van Spookwerwe. Sy vertel hoe ’n storie-idee boek word, en deel graag wenke. Lees meer oor haar en Spookwerwe by https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/n-stem-gesig-vir-randfigure-20190728 https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/ontroerende-debuut-erken-die-onerkendes-20190720 https://www.netwerk24.com/huisgenoot/Vir-die-lekker/Boeke/n-nuwe-storieverteller-is-gebore-20190710 Elna van der Merwe is Huisgenoot se boekeredakteur en was tot onlangs ook verhaleredakteur. Sy het skryfervaring opgedoen by die koerante Beeld en Die Burger, en die tydskrifte Sarie, Landbouweekblad, VISI en Huisgenoot. Rachelle Greeff is ’n skrywer en dramaturg. Verskeie van haar studente het ná haar Skryfskool by die Breytenbachsentrum vir die eerste keer gepubliseer as romansier, kortverhaal-, rubriek-, artikel- of tydskrifverhaalskrywer by toonaangewende uitgewers of in gewilde publikasies. Sy het dekades se ervaring van die literêre wêreld. As skrywer, boekeredakteur, keurder van manuskripte vir uitgewers, rubriek- en tydskrifverhaalskrywer. Sy het ook vir Huisgenoot en Sarie gewerk. Haar mees onlangse meningstuk was op Vrouedag in die aanlynkoerant Vrye Weekblad. Sy het al verskeie bundels (waaronder pryswenners) kortverhale, twee romansen twee kinderprenteboeke gepubliseer. Sy word sedert die begin van haar loopbaan (1990) in plaaslike en buitelandse publikasies opgeneem. Sy is die dramaturg van onder meer die multi-bekroonde Die Naaimasjien (met Sandra Prinsloo) en Rondomskrik (onder andere Shaleen Surtie-Richards.) Kyk wat sê van haar oud-studente oor die Breytenbachsentrum Skryfskool by https://litnet.stg.cnet.io/breytenbach-sentrum-se-skryfskool-2017-2018/

Friday, 30 August 2019

MOFFIE ook na Londen Filmfees

Die rolprentweergawe van die boek MOFFIE premiere die 4de September by die Venesiese filmfeesfees - reeds 'n noemenswaardige prestasie. Nuutste nuus is dit ook gekies is as een van slegs tien van die beste rolprente wat in Oktober in Londen by 'n internsionale filmfeesfees sal meeding om die eerste plek! Refilwe Moloto van Cape Talk gesels met Oliver Hermanus, regisseur van die rolprent MOFFIE by www.capetalk.co.za, soek MOFFIE.

Monday, 5 August 2019

Boeke in Gansbaai


GANSBAAI BOOK EXCHANGE - Is dit nou 'n boekparadys! Eienaar Nicolette Bosch sit haar hand onmiddellik op die boek waarna jy al hoe lank soek. Soos Shibumi (van Trevenian) wat ek nerens heel kon vind nie. Mooi, skoon, hardeband, prys redelik. Geskenk vir kleinseun van 21.

Het 'n paar van ons boeke daar afgelaai- almal is op soek na Gerard Scholtz se toerboek HIER GAAT ONS! En na Cas van Rensburg se MANS EN HULLE WONDE en altyd altyd nog na Ingrid Jonker.

Nicolette se nommer is 028 384 0141



Sunday, 28 July 2019

MOFFIE die movie!





..
MOFFIE in Venesië!



’n Boek wat by Hemel & See se druknaam Penstock Publishing verskyn het, is nie alleen in Italiaans vertaal én in die VSA herdruk nie, dit is nou ook vir die silwerdoek verwerk!
Moffie, ’n roman deur André Carl van der Merwe is in 2007 deur Helga Steyn gepubliseer. Dit is ’n roerende vertelling van ’n sensitiewe jong man se ervaring as dienspligtige tydens die Grensoorlog.
Oor die titel was daar lang besprekings by ons uitgewery. Ek het gedink "Moffie" is oor-braaf, dit sal waarskynlik teen-reaksie uitlok. Dit is nie ’n woord met 'n positiewe konnotasie nie, waarom dit op ’n boek se voorblad uitbasuin – en dit nogal as enkelwoord-titel! Maar Helga en André was vasbeslote. Vandag is dit wonderlik om te dink daardie einste titel gaan binnekort by 'n uitgelese filmfees in Venesië op die silwerskerm verskyn!
In boekvorm het André Carl se verhaal, soos verwag, wyd reaksie uitgelok. Selfs die bekendstelling het tonge laat klap, aangesien dit in – van alle plekke – die Kasteel in Kaapstad,plaasgevind het,  boonop in die vertrek waar senior weermaglede vergader het om die Grensoorlog te bespreek.
Die première van Moffie, die film, vind op 28 Augustus by die Venesiese filmfees plaas. Die regisseur is Oliver Hermanus, wat by die Cannes filmfees van 2011 ’n prys verower het met sy film Skoonheid.
Die boek kan bestel word by hemelenseeboeke@hermanus.co.za

Tuesday, 23 July 2019




Cas van Rensburg se boek oor MANS EN HULLE WONDE is besig om landwyd besprekings uit te lok. Is mans regtig in die knyp soos die skrywer beweer? “Of almal dit nou wil erken of nie, die mans van die 21ste eeu ís in die moeilikheid,” skryf  Cas. “Meer nog, mans is soos nooit tevore nie in hulle diepste onbewuste bang en dikwels baie kwaad vir vroue . . . Hy voeg by: “Mans voel onveilig en onseker in die moderne samelewing.” Hulle word wêreldwyd al hoe meer gewelddadig.
Bestel die boek @ R180 (posgeld ingesluit) by hemelenseeboeke@hermanus.co.za of skakel Helga by 082 750 7274

Monday, 13 May 2019


Heman Lategan se woorde by ontvangs (in absentia, ongelukkig) van die ATKV-Veertjie vir die beste resensie:

Eerstens, Rapport en hul boekeredakteur, Johan van Zyl, wat die resensie geplaas het.

Tweedens, die skrywer van Ingrid Jonker se biografie, Petrovna Metelerkamp. Petrovna het 15 jaar lank aan hierdie magnum opus gewerk. Dit wys.

Die belangrikste: Vir Ingrid Jonker, wat verniel en verneder is deur ʼn groep patriargale boelies. ʼn Brose vrou is skaamteloos deur sekere mans in haar kort lewe emosioneel en fisies misbruik vir hul eie gewin. Tog lag die geskiedenis vir hulle: Want Ingrid Jonker is nie dood nie – uit Drieankerbaai se wit branders lig sy daagliks haar vuiste téén die donker – en skreeu sy die geur van geregtigheid en vryheid. Lank lewe Ingrid Jonker. Dankie.

Saturday, 11 May 2019

Veels geluk Herman Lategan! Daar wen jy die Veertjie vir die beste resensie!
Hier is jou wenstuk vir weer lees:

Titel: Ingrid Jonker: ʼn Biografie. Skrywer: Petrovna Metelerkamp. Uitgewer: Penguin. Genre: Niefiksie. Prys: R300.

Langtand sinici sal moontlik hul hande saamslaan, sug en sê: “Nie nóg iets oor Ingrid Jonker nie!” Hulle sal ʼn fout maak om dié ensiklopediese biografie te verontagsaam. Dit sal jou ruk.

Die navorsing aan hierdie kolos het reeds in 1994 begin, amper 25 jaar terug. Dit het ʼn intense twee jaar geneem om te skryf, ook om alle feite korrek te staaf. Ten tyde van die neerpen het die joernalis, skrywer, omroeper en uitgewer, Petrovna Metelerkamp, se dogter gesterf.

Agter hierdie magnum opus is daar derhalwe jare der jare se speurwerk, wroeging, deurdruk, en persoonlike pyn. ʼn Mens wil vir Metelerkamp op die skouer klop, sonder om neerbuigend oor te kom, en sê: “Dit was alles die moeite werd. Welgedaan.”

Die boek bestaan uit 437 bladsye en 200 000 woorde. Daar is ʼn voorwoord, inleiding, 16 hoofstukke, bedankings, uitgebreide verwysings en bronne, persoonsregister en ʼn register.

Van die hoofstukke se titels is Kleintyd, Ontuis in Johannesburg, Eensaam in Kaapstad, Sewe dae in Valkenberg, ʼn Leë bruidsbed en Ingrid Jonker wêreldwyd. ʼn Horde voorheen verborge inligting uit onderhoude, asook onbekende briewe en dagboekinskrywings is bygewerk.

Sy het toegang gehad tot ou bandopnames van gesprekke wat die sielkundige LM van der Merwe met Jonker se vriende en familie gehad het kort ná haar dood.

Metelerkamp skryf: “Jan Rabie en Marjorie Wallace het vrylik inligting en foto’s gedeel. Bonnie Davidtsz was ná meer as dertig jaar se stilswye oor haar vriendskap met Ingrid bereid om met my te praat. Soos sy gevrees het, het Bonnie die volle trauma van haar laaste nag met Ingrid herleef.

“Heel aan die einde van my navorsing kom ek in aanraking met [die aktrise] Salomi Louw. Uit pure goedgesindheid deel sy inligting wat ook sý voorheen stilgehou het: haar ontmoeting met André Brink, Ingrid se teenwoordigheid in hulle verhouding, hulle kortstondige huwelik en die geboorte van hulle seun.”

Daar is ses verwysings na akademiese studies, onder meer dié van Oliver Driesse, vir jare Afrikaans-onderwyser by die Hoërskool Jan van Riebeeck, en die digter Johan van Wyk.

Metelerkamp was al by die skryf en samestelling van drie vorige publikasies oor Jonker betrokke, haar onderwerp het oor jare saam met haar verdiep en ryp geword in al sy nuanses en skakerings.

Sy weet hoe om ʼn onderhoudende storie te vertel sodat jy soos op satyn van bladsy tot bladsy glip en gly, op en af, totdat jy teen die einde hard op jou boude gaan val en na jou asem snak. Met so baie inligting beskikbaar is dit ʼn moeilike besluit wat om te belig, maar dit begin uiteraard by haar kinderjare.

Abraham Jonker haar pa was ʼn opportunistiese manteldraaier wat sonder skroom vinnig van politieke partye kon verander en ook vlug van humeur was. Hy sou ook later jaloers op sy eie dogter se skryfwerk wees.

Die outeur WA de Klerk vertel hy was dikwels gewelddadig. “My vrou onthou baie goed aande in haar kinderjare, toe Ingrid se moeder [Beatrice] met Anna [Ingrid se suster] as ʼn kind na hulle gevlug het.”

De Klerk se vrou, Ena, vertel hoe Beatrice net in haar nagklere by die huis uitgejaag is. Wat ook in haar geheue bly is toe sy as kind hoor hoe die grootmense oor die susters se ma gepraat het. “Sy was siek en klaerig en haar man het haar hardhandig behandel, hy was ongenaakbaar teenoor haar.”

Op ʼn stadium woon die twee Jonker-dogters met hul grootouers en ma in Durbanville. Hul oupa sterf in 1938 en daar is nie meer geld om in Durbanville te woon nie.

Die gesin verval in armoede en trek na die Gordonsbaai-omgewing en het daarna dikwels getrek, “van huis tot huis, van woonstel tot kamers tot losieshuis.”

Haar ma word later met borskanker gediagnoseer en haar geestestoestand skoppelmaai. Jonker se ouma se radio was langs haar bed, met ʼn rooi liggie wat brand as dit aan is.

Sy het die liggie ʼn ogie genoem en sy het die radio aangeskakel gehou. “Die ogie moenie toegaan nie,” het sy gesê, “want dan gaan mamma dood.”

Dit is duidelik Jonker het van vroeg af die hart van ʼn poëet, iemand wat gereeld metaforiese rou wonde op haar vel dra en ook die pyn van verlies, wat telkemale kom, heftig vrees.

Laasgenoemde kom dan ook. Hul ma sterf. Die pa kom haal die kinders by hul sagmoedige ouma Annie, die persoon vir wie hulle oneindig lief is. Toe hulle in die motor met die vader klim, draai Ingrid die venster oop.

“Ouma staan nader en Ingrid gryp na haar hand, sy wíl nie los nie, maar stadig trek die motor weg,” vertel Anna later.

Die kinders verskeie traumas verwerk: die egskeiding van hul ouers, die dood van hul oupa, hul ma se lang siekbed en afsterwe, armoede, en die afskeid van hul ouma. Dit is nie die einde nie.

Abraham gaan los die kinders alleen in ʼn losieshuis in Tamboerskloof waar hulle self moet regkom totdat hy ander planne kan maak. Die vrees en verwarring is tasbaar. Hulle spaander twee skoolvakansies daar en tussendeur gaan Ingrid en Anna onderskeidelik skool by Jan van Riebeeck se Laer-en Hoërskool.

Later trek hulle by Abraham se nuwe huis in Plumstead in, maar sy derde vrou, Lulu Brewis, haat hulle soos gif. Regdeur hul tienerjare word hulle verneder. Sy het kinderboeke geskryf, maar glad nie van kinders gehou nie.

ʼn Mens wil nie al die inligting verraai nie, lesers sal self moet uitvind. Vir daardie doeleinde snelrol ons die toekom in na ʼn meer volwasse Jonker se lewe.

Sy loop dramaklasse by Babs Laker, wat ʼn ongelooflike aanvoeling vir die onderliggende ritmes en verskuilde betekenisse van poësie gehad het. Ongetwyfeld sou die twee by mekaar aanklank gevind het.

Later werk sy vir uitgewers as proefleser en ook as reklamebeampte vir skrywers. Op ʼn stadium ontmoet sy vir Piet Venter, haar aanstaande man, by ʼn partytjie in Seepunt.

Hy is 15 jaar ouer as sy, het ʼn mooi lyf, bokbaardjie en blonde hare. Hulle het later ʼn dogter, Simone. Hierdie hoofstukke in haar lewe met hom is ingewikkeld en maak ʼn draai in Johannsburg.

Haar lewe, egter, fokus vir ʼn lang ruk op twee plekke in die Kaap: Cheviot Place in Groenpunt en Sea Girt in Clifton.

In Groenpunt bevind sy haar gereeld in die geselskap van Jan Rabie en sy vrou Marjorie Wallace wat gereeld tot laatnag oor bottels Tassenberg met politieke en literêre gesprekke doenig was.

Dr John Sonnenberg wat as jong dokter langs hulle gewoon het, vertel Wallace kon kliphard op Rabie skel, sodat die hele straat haar kon hoor (hierdie is nie in die boek nie, maar ʼn persoonlike anekdote). Net so gou as wat sy kon raas, het sy weer vrede gemaak en gekoer soos ʼn duif.

“Dit was beslis nie ʼn vervelige straat nie,” vertel hy.

Jonker is veral geestelik aangetrokke tot die bruin skrywers wat sy daar ontmoet, soos Peter Clarke, PJ Philander en Adam Small. Onthou, in daardie jare was dit ongehoord vir mense om oor die kleurgrens te sosialiseer, wat nog te sê saam wyn te drink en op mekaar se skote te sit en gedigte te lees.

Ander skrywers met wie sy hier gereeld kuier is Abraham H de Vries, Breyten Breytenbach, Freda Linde, om maar ʼn paar te noem.

In Clifton woon Uys Krige en Jack Cope. Met laasgenoemde begin sy ʼn uitgerekte verhouding wat wissel tussen ʼn pure feeverhaal of loutere hel, afhangende van die stadiums van verval of vernuwing waardeur hulle gaan.

Met die lees van dié biografie, is dit vir hierdie resensent opvallend hoe sommige patriargale mans indirek bygedra het tot haar vernietiging.

Sy het ʼn titsel in die doodsbeker van ʼn paar ontvang: haar pa, Jack Cope by tye, André P Brink wat haar liederlik misbruik het sodat hy sy boek Orgie kon skryf, soms ook Pieter Venter, en Jack Cope se twee jong seuns wat haar skandalig verstoot het.

ʼn Mens kan die gevolgtrekking maak toe haar lyk daardie nag in Drieankerbaai gevind is, die vuil hande van sekere menere haar die see help indra het.

Daar was goeie mans ook, by wie sy veilig kon voel, soos Jan Rabie, Breyten Breytenbach, Chris Lombard, Uys Krige en perdalks Barend J Toerien.

Metelerkamp ondersoek ook die rol wat antidepressante en wyn op haar gemoed gehad het. Jonker sou as sy haar medikasie neem maklik ná een of twee glase handuitruk of aan die slaap val. Sy was dus nie, soos baie mense bewer, ʼn alkoholis of dwelmverslaafde nie.

Eksentriek was sy beslis, soos die keer toe iemand by haar gaan kuier en sy met haar huishulp se baba op die bed lê, terwyl dié aan haar droë tepel suig. Op ʼn stadium val al haar pille in ʼn winkel op die vloer.

Sy het gaan sit en elke een wat sy opgetel het in haar mond gedruk en gesluk. Jonker het ook gereeld vir vriende voor haar dood vertel: “Ek kan dit nie meer vat nie, vanaand is die aand.”

Tussendeur is daar ook ʼn mislukte reis oorsee wat sy met haar prysgeld vir Rook en Oker aangepak het. Oor hierdie digbundel sê Jack Cope vir haar dit is waarskynlik die beste werk wat sy ooit sal kan lewer. Dit het haar platgeslaan.

Ernst van Heerden verwys na “adolessente verse”. André P Brink kritiseer weer haar werk as vol Anglisismes.

Die hekwagter [my woorde] oor vrouedigters, DJ Opperman, skryf oor Ontvlugting in ʼn nota: “Aan die ander kant is die bundel effens skraal – ek bedoel nie bloot die aantal gedigte nie, maar ook die ervaring wat in hulle tot uiting kom. Miskien is dit onbillik om nou reeds ʼn groter wêreld te verwag.”

Snaaks dat Opperman min of meer dieselfde vir Sheila Cussons gesê het, al was sy vroeg reeds reg vir publikasie. Ook ietwat ironies dat Jonker later internasionale status sal geniet.

Teen die einde van haar lewe leef sy in armoede, op meer as een vlak. As ʼn mens oor die laaste aand van Jonker se lewe lees, voel dit asof jy in ʼn 4D-rolprent sit. Alle sintuie word ingepan.

Dit is sekerlik van die mooiste en skrikwekkendste hoofstukke oor een van die mees tragiese figure in ons letterkunde wat nog ooit geskryf is.

Kry hierdie boek, dit gaan ʼn versamelstuk word.

         Herman Lategan is ʼn joernalis van Seepunt.

Friday, 10 May 2019


Wat ’n werk! Om planne te maak dat die wêreld weet daar is ’n nuwe boek op die mark!

Gerard Scholtz het ’n lekkerlees-boek saamgestel uit dagboekaantekeninge, herinneringe en sketse van sy w wêreldwye toer-ervarings. Hemel & See Boeke het dit onlangs gepubliseer – met die titel DAAR GAAT ONS! Subtitel: Reise en rampe. Ja, rampe. Want, sê die ervare Gerard, jy gaan nie op ’n toer sonder dat jy deur ’n ramp getref word nie. Groot of klein.

Dit is te bewonder, Gerard en sy vrou Anuta se passie vir padvat. Hulle pak elke jaar ’n buitelandse reis aan – en nie net ’n week of twee se reis nie. Hulle spandeer maande op die verre paaie, altyd met ’n tema wat rigting gee: op die voetstappe van dié of daai geskiedkundige figuur (o.a. Napoleon se roete oor die Alpe) of op besoek aan sekere katedrale, natuurverskynsels . . . Aanvanklik op trapfietse, deesdae op bromponies.

Op 24 Mei gesels ek met Gerard oor sy boek in Johannesburg – sien die uitnodiging hierby. En op 25 Mei in Pretoria, by Uppercase Books in Menlyn. Gerard het Hermanus Pietersfontein-wyne vir die geleenthede gereël. Sien uitnodigings hierby.

Ek het ook ’n radio-onderhoud met Gerard gedoen, op die Overbergse Whale Coast FM 91.4, en daarna ’n stukkie met hom gepraat om hier te plak.



ENIGEEN WAT DIE BOEK WIL  BESTEL, MOET HELGA KONTAK BY hemelenseeboeke@hermanus.co.za of bel by 028 316 4852

Wednesday, 3 April 2019



Hélène Kesting se laaste digbundel, September 2018 - gepubliseer deur Hemel & See 
(119 bl.) R90 plus posgeld - stuur e-pos aan hemelenseeboeke@hermanus.co.za 

Kabir, ‘n mistikus van die 15de eeu, deel ons mee: “God is die EEN LIEFDE wat die wêreld deurdring, in sy volheid ervaar slegs deur die oë van liefde; hulle wat Hom só ken, deel - al vertel hulle dit nie - die vreugdevolle en onuitspreeklike GEHEIM van die heelal.”
Díe onbegryplike liefde van God is al wat IS. Hy is in my as EK, en in jou as JY. Alles is EEN, alles is God, alles is liefde. Wanneer DIT besef en toegepas word, geniet ons die geluk en vyheid van die kinders van God. Ons bestaan is ‘n EER en ‘n DAAD van liefde.



Hélène Kesting







Friday, 22 March 2019

Vaarwel Elna M Nel










’n Dowwe herinnering aan Elna M Nel, wat verlede week oorlede is. Eens ’n hoge amptenaar in die departement van kuns en kultuur. Ek wonder wie seker is van haar aandeel aan die nuwe president Mandela se lees van Ingrid Jonker se gedig “Die kind”, by sy inhuldiging. 
Later jare was Elna digter en dromer, afgetree in Barberton en baie lief om by die Kaapse see te kom kuier.

Hier is ’n gedig van haar wat in 1965 in die tydskrif Sestiger verskyn het:



Poetics

1.

Die groot wynvat is leeg –

dis tyd om te bid;

my koringgod juig by die oes.



11.

Koddige waansin – my stompgekapte vlerk

groei,

groei,

groei

                al vinniger.

Wednesday, 19 September 2018


‘n Verrassing in die pos – uit Lydenburg kom knipsels uit koerante en ‘n boek van Gerda Whitehorn. Die knipsels vertel van die Ingrid Jonker-gesprek in die plaaslike Café Crust, waar ‘n groot groep van die dorp se lesers opgedaag het. Gerda was die sameroeper. Sy stuur die boek, Rou vrugte – ‘n Reisjoernaal van die rou-pad, waarmee sy mense wat deur die pyn van dood aangeraak is, bemoedig om dagboek te hou van die reis.
Gerda skryf soos sy praat, in die hart van die leser in. Ek glo enige bedroefde mens sal krag vind in haar eerlike vertelling van die pad wat sy moes loop van die oomblik toe sy hoor sy het haar man verloor. Bel haar by 079 515 7799.




Van Mosselbaai kom daar ook ‘n boek: Hoë hawe in vlakte, deur Annalie Calitz. By die 200 bladsye met dubbel soveel gedigte. Sommiges kort, soos:

o God van die branders
o God vang die branders
hulle gryp my

Annelie skryf aangrypende verse. En slim.

Hy wat my liggaam gemaak het
oorgetrek het met vel
Hy tik my naam
op ‘n spierwit rekenaar
Hy wat save
delete nooit
ooit

Annelie deel haar lewe in die eerste persoon, Baie van die gedigte – mens kan amper sê gesprekke – het datums by. Kry meer inligting van haar by 082 447 6319.







Monday, 3 September 2018




Wat 'n verrassing om in Lydenburg by die begraafplaas te kom en dit so mooi versorg te vind! Vooraf het ek gedink ons het gewapende beskerming daar nodig, maar neef Johan Steyn sê nee: Dit is veilig en AfriForum maak skoon en netjies.

My oupa, Willie Steyn, is daar begrawe – Boereheld wat in die hawe van Ceylon uit Britse aanhouding ontsnap het om weer te kan veg, Hy het later sy jongste seun, Vladimir Petroff, vernoem na die Rus wat hom uit die see gered het. 

Nader aan die ingang van die begraafplaas is die graf van my ouma, Aletta. My broer, Van Zyl (Vladimir Van Zyl Steyn) se as is in haar graf, sy naam op ’n blokkie graniet. Van Zyl was 21 toe hy in ’n motorongeluk gesterf het. *

Dankie AfriForum, vir die instandhouding van die begraafplaas. Dit is glo deel van hulle Rus in Vrede-veldtog.

*Die enigste van Steyn-man met my oupa se bloed was Johan Steyn, ’n regter en ’n baron, wat einde verlede jaar in Engeland oorlede is. Jean Meiring het in die tydskrif Advocate ’n lang stuk oor hom geskryf.




Die digter Hélène Kesting, gebore 1928, is verlede week oorlede.
Hélène het veral  bekend geword vir haar mistieke gedigte, waarvan talle in die vorm van haikoes gepubliseer is. Benewens die bundels Skip na die son (Tafelberg 1975) en Klein akkoord: 100 Haikoes (Tafelberg 1979) het twee bundels met haar gedigte in Engels verskyn: Atom of Love (Hemel & See 2001) en Triumph of the Stars (Hemel & See 2017).
Haar gedigte is in Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (Human & Rousseau 1992) en Voorspraak (Tafelberg 1994) opgeneem.
Haar haikoes het selfs in Nederland in ’n versamelbundel verskyn en van haar gedigte is deur Arthur Wegelin getoonset. Hulle is ook in Tokyo, New York en Londen gepubliseer in The Haiku Seasons: Poetry of the Natural World deur William J. Higginson (1996) en Haiku World: An International Poetry Almanac deur William J. Higginson (1997).






Glo

Om te glo
is om in ‘n perkelose dimensie:
te dink:
sonder logika
en sintuiglike bewys

Om te glo is om ingelyf te wees:
om te weet:
Allesdeurdringende Liefde
bied aan
om deur dik en dun
jou allerregterhand te wees



Wednesday, 16 May 2018

Terugvoer

Reaksie op die Ingrid Jonker-biografie is dankdiehere sover gunstig. Dit laat my dink aan Ingrid se eie woorde, nadat sy twee biografieë van haar geliefde digter, Dylan Thomas, gelees het en steeds meer wou weet: “I’d like to read a full, good book about him.”

Louis Esterhuizen: Petrovna Metelerkamp se biografie oor Ingrid Jonker is enorm; uiteraard bevat dit heelwat wat reeds bekend is, maar daar is soveel nuwe materiaal en bronne wat sy ontgin het. Sal die outeur en uitgewer my dit vergewe indien ek die volgendet sê? Die boek het my geskok vanweë die unieke mens wat Ingrid Jonker was . . .die feit dat Petrovna toegang gekry het tot [Jack Cope] se dagboeke onderlê onder andere alles wat "nuut" is in hierdie lewensverhaal, wat strek van Ingrid Jonker se geboorte tot haar nalatenskap soos dit steeds vandag daaruit sien. Inderdaad 'n formidabele studie. Welgedaan, Petrovna.

Louise Lipshitz, Graaff-Reinet: Hoera, hoera vir wat jy weer eens vermag het vir onse Ingrid en baie geluk met 'n puik onderhoud daaroor die afgelope Woensdagaand op Skrywers en Boeke! Ek het die boek - soos al jou ander Ingrid-boeke - baie geniet. Veral die nuwe inligting wat jy gekry het deur Salomé Louw, Bonnie Davidtz en die dagboeke van Jack Cope (en André P Brink se vertad) het my aan die hart geruk. Ek dink nou is die absoluut FINALE biografie oor IJ geskryf: jy het AL die moontlike inligting wat oor haar beskikbaar is, gekry!

Deon Swanepoel: Wat 'n boek! Ek kon dit nie neersit nie. Hierdie biografie is nie vir net eenmaal se lees nie. Jy sal weer en weer wil lees. 'n Nuwe verstaan oor wie en wat Ingrid Jonker was is vir my nou meer duidelik. Ook Uys Krige, Jan Rabie en André P Brink verstaan ek beter. Van Brink sal ek liefs niks sê nie en maar my opinie vir myself hou. Dankie vir 'n besonderse biografie Petrovna Metelerkamp. Hierdie mens Ingrid Jonker lewe weer, en gans anders as wat ek en duisende ander dalk voorheen geglo en gedink het. My reise na Gordonsbaai, Clifton en Drieankerbaai lê nou voor, ek wil haar gaan ervaar en voel en hoor.

Juanette Menderoi Ek het ook hierdie boek gelees en weer gelees... ek vrek oor Ingrid!!

Isa Steynberg: Baie dankie hiervoor! Dankie Petrovna vir 'n kosbare nalatenskap.

Chrisna Van Rensburg: Naas die fotobiografie oor Ingrid, wat in 2003 verskyn het, het Petrovna nou 'n pragboek oor Ingrid se lewe uitgebring, ’n regte volledige biografie: Ingrid Jonker: 'n biografie . . . Die boek lees vloeiend en is 'n aanwins vir jou boekrak!

Belangrik en aandoenlik is Ingrid se dogter, Simone, se kommentaar:

I have never been able to talk about my feelings about my mother, besides the fact that I am totally in awe of her beautiful poetry. After reading Petrovna’s new book called Ingrid Jonker about what really went on in Clifton, I can only say I am heartbroken. At least now I can say it. I. developed flu immediately after I finished the book.


En haar man, Ernesto Garcia Marques: 

Wow, really impressed with your dedicated research on Ingrid Jonker, Petrovna, and that the world can find out the whole truth about one if not THE best lady poet in the world. Everything you ever wanted to know about Ingrid Jonker is in this book, the good the bad and the ugly and it couldn't have been easy for Simone to read, but now she is free so it needed to be done. Congratulations Petrovna, and read this book people because it is essential to know why Ingrid was such a great poet despite having such a tragic life....

Thursday, 10 May 2018



Naomi Bruwer is ’n bekende gesig by wat al wat ’n letterkunde-geleentheid is – altyd met ’n glimlag, notaboekie, kamera om die nek, ywerig besig met skrywers en boeke. So is sy al byna 13 jaar besig om lesers van LitNET met nuus, foto’s en selfs video’s te voer. Dankie vir hierdie een, Naomi!


Friday, 4 May 2018


Cas van Rensburg is gisteroggend, 3 Mei in Onrus oorlede. Jo Prins het gevra ek moet iets vir Beeld/Burger/Media24 skryf.
Ek en Cas was ses en dertig jaar vriende, deur dik en dun. Dik was die goeie tye, nagte op sy stoep in Hemel & See, in Vermont, onder die Suiderkruis, met die klap van branders wat breek. Dan kon hy filosofeer dat mens wens daar is ’n bandopnemer langs die bottel rooiwyn. Gelukkig is Cas se wyshede in sy talle notaboeke bewaar, heel moontlik publiseerbaar.

Cas het groot lof gekry vir sy eerste boek, Jou drome – die onbewuste het ál die antwoorde (JL van Schaik, 2000). Daarna het ek Die prinses in elke vrou uitgegee, wat ’n resensent laat voel het “soos iemand wat dae lank aan die voete van ’n ghoeroe gesit het”. Hier bring hy prinses Diana, Sneeuwitjie en Carl Jung bymekaar in ’n boek oor “die diepste van alle waarhede: hoe om gewoonweg mens te wees, ‘gestroop van alle waan’, en naak”. (p58)

Die dun tye het gekom wanneer Cas die oorlogspad kies. Steeks en vol geite, soos net voor die verskyning van sy wonderlike boek oor die manlike psige: In elke man ’n wond – Oscar Pistorius en al die ander met seer, donker kante. Met die redigering halfpad deur ’n uithaler-redakteur voltooi, skop Cas skielik vas: Hy laat nie aan sy woorde verander nie. Produksie is gestaak, die vriendskap is ná onderhandelings herstel, maar die boek moet nog verskyn.

Teen die einde, toe Cas – nog nie 77 nie – oorwoë sê hy is “gereed om deur die poorte te gaan”, het hy vrede gehad. Namate hy weens hartversaking verswak het, was hy rustig. Sy laaste versoek was dat ek vir hom uit die Bybel moet lees.