Hier is jou wenstuk vir weer lees:
Titel: Ingrid Jonker: ʼn Biografie. Skrywer: Petrovna
Metelerkamp. Uitgewer: Penguin. Genre: Niefiksie. Prys: R300.
Langtand sinici
sal moontlik hul hande saamslaan, sug en sê: “Nie nóg iets oor Ingrid Jonker
nie!” Hulle sal ʼn fout maak om dié ensiklopediese biografie te verontagsaam. Dit
sal jou ruk.
Die navorsing
aan hierdie kolos het reeds in 1994 begin, amper 25 jaar terug. Dit het ʼn
intense twee jaar geneem om te skryf, ook om alle feite korrek te staaf. Ten
tyde van die neerpen het die joernalis, skrywer, omroeper en uitgewer, Petrovna
Metelerkamp, se dogter gesterf.
Agter hierdie
magnum opus is daar derhalwe jare der jare se speurwerk, wroeging, deurdruk, en
persoonlike pyn. ʼn Mens wil vir Metelerkamp op die skouer klop, sonder om
neerbuigend oor te kom, en sê: “Dit was alles die moeite werd. Welgedaan.”
Die boek
bestaan uit 437 bladsye en 200 000 woorde. Daar is ʼn voorwoord, inleiding, 16
hoofstukke, bedankings, uitgebreide verwysings en bronne, persoonsregister en ʼn
register.
Van die
hoofstukke se titels is Kleintyd, Ontuis in Johannesburg, Eensaam in Kaapstad, Sewe
dae in Valkenberg, ʼn Leë bruidsbed en Ingrid Jonker wêreldwyd. ʼn Horde voorheen
verborge inligting uit onderhoude, asook onbekende briewe en dagboekinskrywings
is bygewerk.
Sy het
toegang gehad tot ou bandopnames van gesprekke wat die sielkundige LM van der
Merwe met Jonker se vriende en familie gehad het kort ná haar dood.
Metelerkamp
skryf: “Jan Rabie en Marjorie Wallace het vrylik inligting en foto’s gedeel.
Bonnie Davidtsz was ná meer as dertig jaar se stilswye oor haar vriendskap met
Ingrid bereid om met my te praat. Soos sy gevrees het, het Bonnie die volle
trauma van haar laaste nag met Ingrid herleef.
“Heel aan die
einde van my navorsing kom ek in aanraking met [die aktrise] Salomi Louw. Uit
pure goedgesindheid deel sy inligting wat ook sý voorheen stilgehou het: haar
ontmoeting met André Brink, Ingrid se teenwoordigheid in hulle verhouding,
hulle kortstondige huwelik en die geboorte van hulle seun.”
Daar is ses
verwysings na akademiese studies, onder meer dié van Oliver Driesse, vir jare
Afrikaans-onderwyser by die Hoërskool Jan van Riebeeck, en die digter Johan van
Wyk.
Metelerkamp
was al by die skryf en samestelling van drie vorige publikasies oor Jonker
betrokke, haar onderwerp het oor jare saam met haar verdiep en ryp geword in al
sy nuanses en skakerings.
Sy weet hoe
om ʼn onderhoudende storie te vertel sodat jy soos op satyn van bladsy tot
bladsy glip en gly, op en af, totdat jy teen die einde hard op jou boude gaan
val en na jou asem snak. Met so baie inligting beskikbaar is dit ʼn moeilike besluit
wat om te belig, maar dit begin uiteraard by haar kinderjare.
Abraham
Jonker haar pa was ʼn opportunistiese manteldraaier wat sonder skroom vinnig van
politieke partye kon verander en ook vlug van humeur was. Hy sou ook later
jaloers op sy eie dogter se skryfwerk wees.
Die outeur WA
de Klerk vertel hy was dikwels gewelddadig. “My vrou onthou baie goed aande in
haar kinderjare, toe Ingrid se moeder [Beatrice] met Anna [Ingrid se suster] as
ʼn kind na hulle gevlug het.”
De Klerk se
vrou, Ena, vertel hoe Beatrice net in haar nagklere by die huis uitgejaag is. Wat
ook in haar geheue bly is toe sy as kind hoor hoe die grootmense oor die
susters se ma gepraat het. “Sy was siek en klaerig en haar man het haar
hardhandig behandel, hy was ongenaakbaar teenoor haar.”
Op ʼn stadium
woon die twee Jonker-dogters met hul grootouers en ma in Durbanville. Hul oupa
sterf in 1938 en daar is nie meer geld om in Durbanville te woon nie.
Die gesin
verval in armoede en trek na die Gordonsbaai-omgewing en het daarna dikwels
getrek, “van huis tot huis, van woonstel tot kamers tot losieshuis.”
Haar ma word
later met borskanker gediagnoseer en haar geestestoestand skoppelmaai. Jonker
se ouma se radio was langs haar bed, met ʼn rooi liggie wat brand as dit aan is.
Sy het die liggie
ʼn ogie genoem en sy het die radio aangeskakel gehou. “Die ogie moenie toegaan
nie,” het sy gesê, “want dan gaan mamma dood.”
Dit is
duidelik Jonker het van vroeg af die hart van ʼn poëet, iemand wat gereeld metaforiese
rou wonde op haar vel dra en ook die pyn van verlies, wat telkemale kom, heftig
vrees.
Laasgenoemde
kom dan ook. Hul ma sterf. Die pa kom haal die kinders by hul sagmoedige ouma
Annie, die persoon vir wie hulle oneindig lief is. Toe hulle in die motor met
die vader klim, draai Ingrid die venster oop.
“Ouma staan
nader en Ingrid gryp na haar hand, sy wíl nie los nie, maar stadig trek die
motor weg,” vertel Anna later.
Die kinders verskeie
traumas verwerk: die egskeiding van hul ouers, die dood van hul oupa, hul ma se
lang siekbed en afsterwe, armoede, en die afskeid van hul ouma. Dit is nie die
einde nie.
Abraham gaan
los die kinders alleen in ʼn losieshuis in Tamboerskloof waar hulle self moet
regkom totdat hy ander planne kan maak. Die vrees en verwarring is tasbaar.
Hulle spaander twee skoolvakansies daar en tussendeur gaan Ingrid en Anna onderskeidelik
skool by Jan van Riebeeck se Laer-en Hoërskool.
Later trek
hulle by Abraham se nuwe huis in Plumstead in, maar sy derde vrou, Lulu Brewis,
haat hulle soos gif. Regdeur hul tienerjare word hulle verneder. Sy het
kinderboeke geskryf, maar glad nie van kinders gehou nie.
ʼn Mens wil
nie al die inligting verraai nie, lesers sal self moet uitvind. Vir daardie
doeleinde snelrol ons die toekom in na ʼn meer volwasse Jonker se lewe.
Sy loop
dramaklasse by Babs Laker, wat ʼn ongelooflike aanvoeling vir die onderliggende
ritmes en verskuilde betekenisse van poësie gehad het. Ongetwyfeld sou die twee
by mekaar aanklank gevind het.
Later werk sy
vir uitgewers as proefleser en ook as reklamebeampte vir skrywers. Op ʼn stadium
ontmoet sy vir Piet Venter, haar aanstaande man, by ʼn partytjie in Seepunt.
Hy is 15 jaar
ouer as sy, het ʼn mooi lyf, bokbaardjie en blonde hare. Hulle het later ʼn
dogter, Simone. Hierdie hoofstukke in haar lewe met hom is ingewikkeld en maak
ʼn draai in Johannsburg.
Haar lewe,
egter, fokus vir ʼn lang ruk op twee plekke in die Kaap: Cheviot Place in
Groenpunt en Sea Girt in Clifton.
In Groenpunt bevind
sy haar gereeld in die geselskap van Jan Rabie en sy vrou Marjorie Wallace wat
gereeld tot laatnag oor bottels Tassenberg met politieke en literêre gesprekke doenig
was.
Dr John
Sonnenberg wat as jong dokter langs hulle gewoon het, vertel Wallace kon
kliphard op Rabie skel, sodat die hele straat haar kon hoor (hierdie is nie in
die boek nie, maar ʼn persoonlike anekdote). Net so gou as wat sy kon raas, het
sy weer vrede gemaak en gekoer soos ʼn duif.
“Dit was
beslis nie ʼn vervelige straat nie,” vertel hy.
Jonker is
veral geestelik aangetrokke tot die bruin skrywers wat sy daar ontmoet, soos
Peter Clarke, PJ Philander en Adam Small. Onthou, in daardie jare was dit
ongehoord vir mense om oor die kleurgrens te sosialiseer, wat nog te sê saam
wyn te drink en op mekaar se skote te sit en gedigte te lees.
Ander
skrywers met wie sy hier gereeld kuier is Abraham H de Vries, Breyten
Breytenbach, Freda Linde, om maar ʼn paar te noem.
In Clifton
woon Uys Krige en Jack Cope. Met laasgenoemde begin sy ʼn uitgerekte verhouding
wat wissel tussen ʼn pure feeverhaal of loutere hel, afhangende van die stadiums
van verval of vernuwing waardeur hulle gaan.
Met die lees
van dié biografie, is dit vir hierdie resensent opvallend hoe sommige
patriargale mans indirek bygedra het tot haar vernietiging.
Sy het ʼn
titsel in die doodsbeker van ʼn paar ontvang: haar pa, Jack Cope by tye, André P
Brink wat haar liederlik misbruik het sodat hy sy boek Orgie kon skryf, soms
ook Pieter Venter, en Jack Cope se twee jong seuns wat haar skandalig verstoot
het.
ʼn Mens kan
die gevolgtrekking maak toe haar lyk daardie nag in Drieankerbaai gevind is,
die vuil hande van sekere menere haar die see help indra het.
Daar was
goeie mans ook, by wie sy veilig kon voel, soos Jan Rabie, Breyten Breytenbach,
Chris Lombard, Uys Krige en perdalks Barend J Toerien.
Metelerkamp
ondersoek ook die rol wat antidepressante en wyn op haar gemoed gehad het.
Jonker sou as sy haar medikasie neem maklik ná een of twee glase handuitruk of
aan die slaap val. Sy was dus nie, soos baie mense bewer, ʼn alkoholis of
dwelmverslaafde nie.
Eksentriek
was sy beslis, soos die keer toe iemand by haar gaan kuier en sy met haar
huishulp se baba op die bed lê, terwyl dié aan haar droë tepel suig. Op ʼn
stadium val al haar pille in ʼn winkel op die vloer.
Sy het gaan
sit en elke een wat sy opgetel het in haar mond gedruk en gesluk. Jonker het
ook gereeld vir vriende voor haar dood vertel: “Ek kan dit nie meer vat nie,
vanaand is die aand.”
Tussendeur is
daar ook ʼn mislukte reis oorsee wat sy met haar prysgeld vir Rook en Oker
aangepak het. Oor hierdie digbundel sê Jack Cope vir haar dit is waarskynlik
die beste werk wat sy ooit sal kan lewer. Dit het haar platgeslaan.
Ernst van
Heerden verwys na “adolessente verse”. André P Brink kritiseer weer haar werk
as vol Anglisismes.
Die hekwagter
[my woorde] oor vrouedigters, DJ Opperman, skryf oor Ontvlugting in ʼn nota:
“Aan die ander kant is die bundel effens skraal – ek bedoel nie bloot die
aantal gedigte nie, maar ook die ervaring wat in hulle tot uiting kom. Miskien
is dit onbillik om nou reeds ʼn groter wêreld te verwag.”
Snaaks dat
Opperman min of meer dieselfde vir Sheila Cussons gesê het, al was sy vroeg
reeds reg vir publikasie. Ook ietwat ironies dat Jonker later internasionale
status sal geniet.
Teen die
einde van haar lewe leef sy in armoede, op meer as een vlak. As ʼn mens oor die
laaste aand van Jonker se lewe lees, voel dit asof jy in ʼn 4D-rolprent sit. Alle
sintuie word ingepan.
Dit is
sekerlik van die mooiste en skrikwekkendste hoofstukke oor een van die mees
tragiese figure in ons letterkunde wat nog ooit geskryf is.
Kry hierdie
boek, dit gaan ʼn versamelstuk word.
–
Herman Lategan is ʼn joernalis van Seepunt.
No comments:
Post a Comment