Wednesday 19 September 2018


‘n Verrassing in die pos – uit Lydenburg kom knipsels uit koerante en ‘n boek van Gerda Whitehorn. Die knipsels vertel van die Ingrid Jonker-gesprek in die plaaslike Café Crust, waar ‘n groot groep van die dorp se lesers opgedaag het. Gerda was die sameroeper. Sy stuur die boek, Rou vrugte – ‘n Reisjoernaal van die rou-pad, waarmee sy mense wat deur die pyn van dood aangeraak is, bemoedig om dagboek te hou van die reis.
Gerda skryf soos sy praat, in die hart van die leser in. Ek glo enige bedroefde mens sal krag vind in haar eerlike vertelling van die pad wat sy moes loop van die oomblik toe sy hoor sy het haar man verloor. Bel haar by 079 515 7799.




Van Mosselbaai kom daar ook ‘n boek: Hoë hawe in vlakte, deur Annalie Calitz. By die 200 bladsye met dubbel soveel gedigte. Sommiges kort, soos:

o God van die branders
o God vang die branders
hulle gryp my

Annelie skryf aangrypende verse. En slim.

Hy wat my liggaam gemaak het
oorgetrek het met vel
Hy tik my naam
op ‘n spierwit rekenaar
Hy wat save
delete nooit
ooit

Annelie deel haar lewe in die eerste persoon, Baie van die gedigte – mens kan amper sê gesprekke – het datums by. Kry meer inligting van haar by 082 447 6319.







Monday 3 September 2018




Wat 'n verrassing om in Lydenburg by die begraafplaas te kom en dit so mooi versorg te vind! Vooraf het ek gedink ons het gewapende beskerming daar nodig, maar neef Johan Steyn sê nee: Dit is veilig en AfriForum maak skoon en netjies.

My oupa, Willie Steyn, is daar begrawe – Boereheld wat in die hawe van Ceylon uit Britse aanhouding ontsnap het om weer te kan veg, Hy het later sy jongste seun, Vladimir Petroff, vernoem na die Rus wat hom uit die see gered het. 

Nader aan die ingang van die begraafplaas is die graf van my ouma, Aletta. My broer, Van Zyl (Vladimir Van Zyl Steyn) se as is in haar graf, sy naam op ’n blokkie graniet. Van Zyl was 21 toe hy in ’n motorongeluk gesterf het. *

Dankie AfriForum, vir die instandhouding van die begraafplaas. Dit is glo deel van hulle Rus in Vrede-veldtog.

*Die enigste van Steyn-man met my oupa se bloed was Johan Steyn, ’n regter en ’n baron, wat einde verlede jaar in Engeland oorlede is. Jean Meiring het in die tydskrif Advocate ’n lang stuk oor hom geskryf.




Die digter Hélène Kesting, gebore 1928, is verlede week oorlede.
Hélène het veral  bekend geword vir haar mistieke gedigte, waarvan talle in die vorm van haikoes gepubliseer is. Benewens die bundels Skip na die son (Tafelberg 1975) en Klein akkoord: 100 Haikoes (Tafelberg 1979) het twee bundels met haar gedigte in Engels verskyn: Atom of Love (Hemel & See 2001) en Triumph of the Stars (Hemel & See 2017).
Haar gedigte is in Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (Human & Rousseau 1992) en Voorspraak (Tafelberg 1994) opgeneem.
Haar haikoes het selfs in Nederland in ’n versamelbundel verskyn en van haar gedigte is deur Arthur Wegelin getoonset. Hulle is ook in Tokyo, New York en Londen gepubliseer in The Haiku Seasons: Poetry of the Natural World deur William J. Higginson (1996) en Haiku World: An International Poetry Almanac deur William J. Higginson (1997).






Glo

Om te glo
is om in ‘n perkelose dimensie:
te dink:
sonder logika
en sintuiglike bewys

Om te glo is om ingelyf te wees:
om te weet:
Allesdeurdringende Liefde
bied aan
om deur dik en dun
jou allerregterhand te wees



Wednesday 16 May 2018

Terugvoer

Reaksie op die Ingrid Jonker-biografie is dankdiehere sover gunstig. Dit laat my dink aan Ingrid se eie woorde, nadat sy twee biografieë van haar geliefde digter, Dylan Thomas, gelees het en steeds meer wou weet: “I’d like to read a full, good book about him.”

Louis Esterhuizen: Petrovna Metelerkamp se biografie oor Ingrid Jonker is enorm; uiteraard bevat dit heelwat wat reeds bekend is, maar daar is soveel nuwe materiaal en bronne wat sy ontgin het. Sal die outeur en uitgewer my dit vergewe indien ek die volgendet sê? Die boek het my geskok vanweë die unieke mens wat Ingrid Jonker was . . .die feit dat Petrovna toegang gekry het tot [Jack Cope] se dagboeke onderlê onder andere alles wat "nuut" is in hierdie lewensverhaal, wat strek van Ingrid Jonker se geboorte tot haar nalatenskap soos dit steeds vandag daaruit sien. Inderdaad 'n formidabele studie. Welgedaan, Petrovna.

Louise Lipshitz, Graaff-Reinet: Hoera, hoera vir wat jy weer eens vermag het vir onse Ingrid en baie geluk met 'n puik onderhoud daaroor die afgelope Woensdagaand op Skrywers en Boeke! Ek het die boek - soos al jou ander Ingrid-boeke - baie geniet. Veral die nuwe inligting wat jy gekry het deur Salomé Louw, Bonnie Davidtz en die dagboeke van Jack Cope (en André P Brink se vertad) het my aan die hart geruk. Ek dink nou is die absoluut FINALE biografie oor IJ geskryf: jy het AL die moontlike inligting wat oor haar beskikbaar is, gekry!

Deon Swanepoel: Wat 'n boek! Ek kon dit nie neersit nie. Hierdie biografie is nie vir net eenmaal se lees nie. Jy sal weer en weer wil lees. 'n Nuwe verstaan oor wie en wat Ingrid Jonker was is vir my nou meer duidelik. Ook Uys Krige, Jan Rabie en André P Brink verstaan ek beter. Van Brink sal ek liefs niks sê nie en maar my opinie vir myself hou. Dankie vir 'n besonderse biografie Petrovna Metelerkamp. Hierdie mens Ingrid Jonker lewe weer, en gans anders as wat ek en duisende ander dalk voorheen geglo en gedink het. My reise na Gordonsbaai, Clifton en Drieankerbaai lê nou voor, ek wil haar gaan ervaar en voel en hoor.

Juanette Menderoi Ek het ook hierdie boek gelees en weer gelees... ek vrek oor Ingrid!!

Isa Steynberg: Baie dankie hiervoor! Dankie Petrovna vir 'n kosbare nalatenskap.

Chrisna Van Rensburg: Naas die fotobiografie oor Ingrid, wat in 2003 verskyn het, het Petrovna nou 'n pragboek oor Ingrid se lewe uitgebring, ’n regte volledige biografie: Ingrid Jonker: 'n biografie . . . Die boek lees vloeiend en is 'n aanwins vir jou boekrak!

Belangrik en aandoenlik is Ingrid se dogter, Simone, se kommentaar:

I have never been able to talk about my feelings about my mother, besides the fact that I am totally in awe of her beautiful poetry. After reading Petrovna’s new book called Ingrid Jonker about what really went on in Clifton, I can only say I am heartbroken. At least now I can say it. I. developed flu immediately after I finished the book.


En haar man, Ernesto Garcia Marques: 

Wow, really impressed with your dedicated research on Ingrid Jonker, Petrovna, and that the world can find out the whole truth about one if not THE best lady poet in the world. Everything you ever wanted to know about Ingrid Jonker is in this book, the good the bad and the ugly and it couldn't have been easy for Simone to read, but now she is free so it needed to be done. Congratulations Petrovna, and read this book people because it is essential to know why Ingrid was such a great poet despite having such a tragic life....

Thursday 10 May 2018



Naomi Bruwer is ’n bekende gesig by wat al wat ’n letterkunde-geleentheid is – altyd met ’n glimlag, notaboekie, kamera om die nek, ywerig besig met skrywers en boeke. So is sy al byna 13 jaar besig om lesers van LitNET met nuus, foto’s en selfs video’s te voer. Dankie vir hierdie een, Naomi!


Friday 4 May 2018


Cas van Rensburg is gisteroggend, 3 Mei in Onrus oorlede. Jo Prins het gevra ek moet iets vir Beeld/Burger/Media24 skryf.
Ek en Cas was ses en dertig jaar vriende, deur dik en dun. Dik was die goeie tye, nagte op sy stoep in Hemel & See, in Vermont, onder die Suiderkruis, met die klap van branders wat breek. Dan kon hy filosofeer dat mens wens daar is ’n bandopnemer langs die bottel rooiwyn. Gelukkig is Cas se wyshede in sy talle notaboeke bewaar, heel moontlik publiseerbaar.

Cas het groot lof gekry vir sy eerste boek, Jou drome – die onbewuste het ál die antwoorde (JL van Schaik, 2000). Daarna het ek Die prinses in elke vrou uitgegee, wat ’n resensent laat voel het “soos iemand wat dae lank aan die voete van ’n ghoeroe gesit het”. Hier bring hy prinses Diana, Sneeuwitjie en Carl Jung bymekaar in ’n boek oor “die diepste van alle waarhede: hoe om gewoonweg mens te wees, ‘gestroop van alle waan’, en naak”. (p58)

Die dun tye het gekom wanneer Cas die oorlogspad kies. Steeks en vol geite, soos net voor die verskyning van sy wonderlike boek oor die manlike psige: In elke man ’n wond – Oscar Pistorius en al die ander met seer, donker kante. Met die redigering halfpad deur ’n uithaler-redakteur voltooi, skop Cas skielik vas: Hy laat nie aan sy woorde verander nie. Produksie is gestaak, die vriendskap is ná onderhandelings herstel, maar die boek moet nog verskyn.

Teen die einde, toe Cas – nog nie 77 nie – oorwoë sê hy is “gereed om deur die poorte te gaan”, het hy vrede gehad. Namate hy weens hartversaking verswak het, was hy rustig. Sy laaste versoek was dat ek vir hom uit die Bybel moet lees.