Friday 4 May 2018


Cas van Rensburg is gisteroggend, 3 Mei in Onrus oorlede. Jo Prins het gevra ek moet iets vir Beeld/Burger/Media24 skryf.
Ek en Cas was ses en dertig jaar vriende, deur dik en dun. Dik was die goeie tye, nagte op sy stoep in Hemel & See, in Vermont, onder die Suiderkruis, met die klap van branders wat breek. Dan kon hy filosofeer dat mens wens daar is ’n bandopnemer langs die bottel rooiwyn. Gelukkig is Cas se wyshede in sy talle notaboeke bewaar, heel moontlik publiseerbaar.

Cas het groot lof gekry vir sy eerste boek, Jou drome – die onbewuste het ál die antwoorde (JL van Schaik, 2000). Daarna het ek Die prinses in elke vrou uitgegee, wat ’n resensent laat voel het “soos iemand wat dae lank aan die voete van ’n ghoeroe gesit het”. Hier bring hy prinses Diana, Sneeuwitjie en Carl Jung bymekaar in ’n boek oor “die diepste van alle waarhede: hoe om gewoonweg mens te wees, ‘gestroop van alle waan’, en naak”. (p58)

Die dun tye het gekom wanneer Cas die oorlogspad kies. Steeks en vol geite, soos net voor die verskyning van sy wonderlike boek oor die manlike psige: In elke man ’n wond – Oscar Pistorius en al die ander met seer, donker kante. Met die redigering halfpad deur ’n uithaler-redakteur voltooi, skop Cas skielik vas: Hy laat nie aan sy woorde verander nie. Produksie is gestaak, die vriendskap is ná onderhandelings herstel, maar die boek moet nog verskyn.

Teen die einde, toe Cas – nog nie 77 nie – oorwoë sê hy is “gereed om deur die poorte te gaan”, het hy vrede gehad. Namate hy weens hartversaking verswak het, was hy rustig. Sy laaste versoek was dat ek vir hom uit die Bybel moet lees.

1 comment:

  1. Nimlike Cas. Om deel van sy Hermanus-kring te kon wees, was 'n voorreg,

    ReplyDelete