Wednesday, 11 September 2019
Kreatiewe vure is aan die brand
Die kreatiewe vure is aan die brand - waar jy kyk, word daar geteken, geskilder, geskryf.
Vir skrywers is sessies met kenners goud werd - en hier kom Rachelle Greeff met 'n blink aanbod:
Skryfskool in die Swartland
Vlakkerug is ’n familieplaas in die hart van die Swartland. Wanneer jy op die werf stop, kom die skaaphonde hallo sê – tensy hulle iewers op die plaas werk. Maak die motordeur oop, en jy ruik plaaskombuis. Kyk om jou, en jy wil alles afneem.
Maar jy’s nie hier vir foto’s neem nie. As Dalene Matthee net na mooi bostonele gekyk het, het ons nie ’n Fiela gehad nie, en as Lodewyk G. du Plessis (Andries Buys) sy lyf net toeris gehou het, pleks van sy Chinese wedervaringe sorgvuldig verweef het in sy veelvuldigbekroonde roman, Die Dao van Daan van der Walt, was ons ’n Daan armer.
Een van vanjaar se opwindendste Afrikaanse nuwelingskrywers, Lize Albertyn-du Toit (Die kinders van Spookwerwe, Human&Rousseau), woon op Vlakkerug. En dit is waar jy jou skryfspiere gaan ontwikkel, of versterk. Dis ’n afspraak met jouself. Goeie skryfwerk vereis ’n mate van talent, verbeelding en woordvaardigheid. Maar veral moet jy deursettingsvermoë en selfdissipline hê.
Waar begin mens? Op Vlakkerug, 9 km buite Riebeek Wes (waarvan die laaste 3 km goeie grondpad is).
Wanneer? 10 tot 14 Oktober 2019
Jy sal:
Voorste plaaslike en buitelandse skryfwerk in Afrikaans en Engels bespreek;
Gesels oor wat gehaltewerk van middelmatige pogings onderskei;
Boekejoernalis Elna van der Merwe ontmoet;
In die brein-gim op die woord-trapmeul klim;
Insae kry in die fabrieksgeheime van top-wêreldskrywers;
Vir Lize oor haar suksesvolle onlangse debuutroman uitvra;
Storie-idees ontgin – en begin;
Leer hoe om dieselfde onderwerp verskillend te plooi vir ’n roman, kortverhaal, meningstuk (rubriek), tydskrifstorie of radiodrama, en
In die groep woeker, en ook op jou eentjie.
Jy hoor ook Rachelle se wenke oor voorlegging aan die media en uitgewers, soos sy dit al vir bykans veertig jaar doen. Sy gee ook vir jou individuele terugvoering op jou werk, en antwoord al jou skryfvrae.
Moenie verder lees as jy nie wil glo:
Die herskryf van jou aanvanklike skryfwerk is net so noodsaaklik, en dikwels belangriker, as die eerste “kry dit op papier”. Dít is wat die Andries Buyse, Dalene Matthee’s en Karin Brynards van aspirantskrywers onderskei. Nie in die eerste plek IK, verbeelding, akademiese prestasie of genoeg tyd of geld om die wêreld te deurkruis nie.
Is skryfervaring nodig om in aanmerking te kom?
Die kursus se inhoud gaan deur die aansoeke bepaal word sodat almal se vaardigheidsvlakke min of meer dieselfde is. Die individuele terugvoering sal ook so wees dat elkeen die beste vir hom of haar uit die vier dae op Vlakkerug kry.
Sluitingsdatum vir aansoeke: Maandag, 23 September 2019
Die kursus het plek vir net 8 deelnemers.
Stel jy belang? Indien wel, antwoorde onderstaande 8 vrae en e-pos na storieplaas@gmail.com
(1) Jou naam, van, selfoonnommer, e-posadres en ID-nommer;
(2) ’n Lys van die laaste 10 boeke (fiksie of nie-fiksie) wat jy gelees het;
(3) Het jy al gepubliseer? Ja? Vertel dan meer;
(4) Indien nie, hoekom wil jy skryf?
(5) En wat?
(6) Skryf as stokperdjie, terapie of voltyds? (Aldrie, of in dié stadium geen, is ook in orde.)
(7) Heg gerus ’n voorbeeld van jou skryfwerk aan. Dis opsioneel. Indien jy dit gaan doen, hou dit by 400 woorde, of minder.
(8) Wil jy op die plaas oorbly of gaan jy vir jou eie verblyf sorg?
Verblyf: Die plaas het ’n voormanshuis wat van tyd tot tyd gebruik word. Let wel: dis nié ’n werkende gastehuis nie. Dit het slaapplek vir 4. Dit het 1 badkamer met bad, stort en toilet wat gedeel word. (Hoe gouer jy aansoek doen, hoe groter is jou plaas-bly kans.)
As jy nie op Vlakkerug gaan bly nie en nie van jou eie plek kan pendel nie, bespreek vroegtydig (vir jou eie koste) verblyf op een van die nabygeleë dorpe, Riebeek-Wes of Riebeek-Kasteel. Hier is ’n verskeidenheid oornagplekke. Kaapstad is sowat ’n uur ver.
Venue: Die hoofplaashuis.
Koste van kursus: R840 per persoon per dag. Dit sluit in lesingmateriaal, toegang tot drukgeriewe, ’n daaglikse (ligte) middagete en nie-alkoholiese drinkgoed deur die loop van die dag.
Voormanshuisverblyfkoste: R100 p.p.p.dag. Dit is ten volle gemeubileer en het ’n volledig toegeruste kombuis. Kursusgangers wat hiervan gebruik maak,, sorg vir hulle eie ontbyt. Handdoeke en beddegoed word verskaf. Dié huis, enkele treë van die hoofhuis, het twee dubbelkamers (met dubbelbed elk) en een enkelkamer (twee enkelbeddens).
Koste van plaaskombuis-aandete: Opsioneel. R60 p.p. Glas wyn ingesluit. Eie drinkgoed welkom. Bespreek ’n dag tevore met die kombuispersoneel.
Deposito: Indien jy vir die kursus gekeur word, is ’n deposito van 30% van jou spesifieke pakket teen 30 September 2019 betaalbaar. Bankbesonderhede word dan verskaf. Die uitstaande balans is betaalbaar teen nie later nie as 10 Oktober 2019.
Belangrik: As jy nie op die plaas bly nie, is jy vir jou eie verblyfreëlings en –koste verantwoordelik.
Program:
09h00 – 12h30 Werkwinkel, lesing, groep- en individuele bespreking.
12h30 – 14h30 Middagete en individuele skryf- of leestyd.
14h30 – 17h00 Skryf, werk, lesing en terugvoering van Rachelle.
19h00 – Aandete in die plaashuis. Praat- en vraetyd.
Intussen:
Vlakkerug is in die hart van die Swartland waar debuutskrywer Lize Albertyn-du Toit die afgelope vier jaar gewerk het aan Die kinders van Spookwerwe. Sy vertel hoe ’n storie-idee boek word, en deel graag wenke. Lees meer oor haar en Spookwerwe by https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/n-stem-gesig-vir-randfigure-20190728
https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/ontroerende-debuut-erken-die-onerkendes-20190720
https://www.netwerk24.com/huisgenoot/Vir-die-lekker/Boeke/n-nuwe-storieverteller-is-gebore-20190710
Elna van der Merwe is Huisgenoot se boekeredakteur en was tot onlangs ook verhaleredakteur. Sy het skryfervaring opgedoen by die koerante Beeld en Die Burger, en die tydskrifte Sarie, Landbouweekblad, VISI en Huisgenoot.
Rachelle Greeff is ’n skrywer en dramaturg. Verskeie van haar studente het ná haar Skryfskool by die Breytenbachsentrum vir die eerste keer gepubliseer as romansier, kortverhaal-, rubriek-, artikel- of tydskrifverhaalskrywer by toonaangewende uitgewers of in gewilde publikasies. Sy het dekades se ervaring van die literêre wêreld. As skrywer, boekeredakteur, keurder van manuskripte vir uitgewers, rubriek- en tydskrifverhaalskrywer. Sy het ook vir Huisgenoot en Sarie gewerk. Haar mees onlangse meningstuk was op Vrouedag in die aanlynkoerant Vrye Weekblad. Sy het al verskeie bundels (waaronder pryswenners) kortverhale, twee romansen twee kinderprenteboeke gepubliseer. Sy word sedert die begin van haar loopbaan (1990) in plaaslike en buitelandse publikasies opgeneem. Sy is die dramaturg van onder meer die multi-bekroonde Die Naaimasjien (met Sandra Prinsloo) en Rondomskrik (onder andere Shaleen Surtie-Richards.) Kyk wat sê van haar oud-studente oor die Breytenbachsentrum Skryfskool by https://litnet.stg.cnet.io/breytenbach-sentrum-se-skryfskool-2017-2018/
Friday, 30 August 2019
MOFFIE ook na Londen Filmfees
Die rolprentweergawe van die boek MOFFIE premiere die 4de September by die Venesiese filmfeesfees - reeds 'n noemenswaardige prestasie.
Nuutste nuus is dit ook gekies is as een van slegs tien van die beste rolprente wat in Oktober in Londen by 'n internsionale filmfeesfees sal meeding om die eerste plek!
Refilwe Moloto van Cape Talk gesels met Oliver Hermanus, regisseur van die rolprent MOFFIE by www.capetalk.co.za, soek MOFFIE.
Monday, 5 August 2019
Boeke in Gansbaai
Het 'n paar van ons boeke daar afgelaai- almal is op soek na Gerard Scholtz se toerboek HIER GAAT ONS! En na Cas van Rensburg se MANS EN HULLE WONDE en altyd altyd nog na Ingrid Jonker.
Nicolette se nommer is 028 384 0141
Sunday, 28 July 2019
MOFFIE die movie!
..
MOFFIE in Venesië!
’n Boek wat by Hemel & See se druknaam Penstock
Publishing verskyn het, is nie alleen in Italiaans vertaal én in die VSA herdruk
nie, dit is nou ook vir die silwerdoek verwerk!
Moffie, ’n roman deur André Carl van der Merwe is in
2007 deur Helga Steyn gepubliseer. Dit is ’n roerende vertelling van ’n sensitiewe
jong man se ervaring as dienspligtige tydens die Grensoorlog.
Oor die titel was daar lang besprekings by ons uitgewery. Ek
het gedink "Moffie" is oor-braaf, dit sal waarskynlik teen-reaksie uitlok. Dit is nie ’n woord met 'n positiewe konnotasie nie, waarom dit op ’n boek se voorblad uitbasuin – en dit nogal as enkelwoord-titel! Maar Helga en André was vasbeslote. Vandag is dit wonderlik om te dink daardie einste titel gaan binnekort by 'n uitgelese filmfees in Venesië op die silwerskerm verskyn!
In boekvorm het André Carl se verhaal, soos verwag, wyd
reaksie uitgelok. Selfs die bekendstelling het tonge laat klap, aangesien dit in
– van alle plekke – die Kasteel in Kaapstad,plaasgevind het, boonop in die vertrek waar senior
weermaglede vergader het om die Grensoorlog te bespreek.
Die première van Moffie, die film, vind op 28 Augustus
by die Venesiese filmfees plaas. Die regisseur is Oliver Hermanus, wat by die
Cannes filmfees van 2011 ’n prys verower het met sy film Skoonheid.
Die boek kan bestel word by hemelenseeboeke@hermanus.co.za
Tuesday, 23 July 2019
Cas van Rensburg
se boek oor MANS EN HULLE WONDE is besig om landwyd besprekings uit te lok. Is
mans regtig in die knyp soos die skrywer beweer? “Of almal dit nou wil erken of
nie, die mans van die 21ste eeu ís in die moeilikheid,” skryf Cas. “Meer nog, mans
is soos nooit tevore nie in hulle diepste onbewuste bang en dikwels baie kwaad
vir vroue . . . Hy voeg by: “Mans voel onveilig en onseker in die moderne
samelewing.” Hulle word wêreldwyd al hoe meer gewelddadig.
Bestel die boek @ R180 (posgeld ingesluit) by hemelenseeboeke@hermanus.co.za of skakel Helga by 082 750 7274
Monday, 13 May 2019
Heman Lategan se woorde by ontvangs (in absentia, ongelukkig) van die ATKV-Veertjie
vir die beste resensie:
Eerstens, Rapport
en hul boekeredakteur, Johan van Zyl, wat die resensie geplaas het.
Tweedens, die skrywer van Ingrid Jonker se
biografie, Petrovna Metelerkamp. Petrovna het 15 jaar lank aan hierdie magnum opus gewerk. Dit wys.
Die belangrikste: Vir Ingrid Jonker, wat verniel en verneder is deur ʼn groep
patriargale boelies. ʼn Brose vrou is skaamteloos deur sekere mans in haar kort
lewe emosioneel en fisies misbruik
vir hul eie gewin. Tog lag die geskiedenis vir hulle: Want Ingrid Jonker is nie dood nie – uit Drieankerbaai se wit
branders lig sy daagliks haar vuiste téén die donker – en skreeu
sy die geur van geregtigheid en vryheid. Lank
lewe Ingrid Jonker. Dankie.
Saturday, 11 May 2019
Veels geluk Herman Lategan! Daar wen jy die Veertjie vir die beste resensie!
Hier is jou wenstuk vir weer lees:
Hier is jou wenstuk vir weer lees:
Titel: Ingrid Jonker: ʼn Biografie. Skrywer: Petrovna
Metelerkamp. Uitgewer: Penguin. Genre: Niefiksie. Prys: R300.
Langtand sinici
sal moontlik hul hande saamslaan, sug en sê: “Nie nóg iets oor Ingrid Jonker
nie!” Hulle sal ʼn fout maak om dié ensiklopediese biografie te verontagsaam. Dit
sal jou ruk.
Die navorsing
aan hierdie kolos het reeds in 1994 begin, amper 25 jaar terug. Dit het ʼn
intense twee jaar geneem om te skryf, ook om alle feite korrek te staaf. Ten
tyde van die neerpen het die joernalis, skrywer, omroeper en uitgewer, Petrovna
Metelerkamp, se dogter gesterf.
Agter hierdie
magnum opus is daar derhalwe jare der jare se speurwerk, wroeging, deurdruk, en
persoonlike pyn. ʼn Mens wil vir Metelerkamp op die skouer klop, sonder om
neerbuigend oor te kom, en sê: “Dit was alles die moeite werd. Welgedaan.”
Die boek
bestaan uit 437 bladsye en 200 000 woorde. Daar is ʼn voorwoord, inleiding, 16
hoofstukke, bedankings, uitgebreide verwysings en bronne, persoonsregister en ʼn
register.
Van die
hoofstukke se titels is Kleintyd, Ontuis in Johannesburg, Eensaam in Kaapstad, Sewe
dae in Valkenberg, ʼn Leë bruidsbed en Ingrid Jonker wêreldwyd. ʼn Horde voorheen
verborge inligting uit onderhoude, asook onbekende briewe en dagboekinskrywings
is bygewerk.
Sy het
toegang gehad tot ou bandopnames van gesprekke wat die sielkundige LM van der
Merwe met Jonker se vriende en familie gehad het kort ná haar dood.
Metelerkamp
skryf: “Jan Rabie en Marjorie Wallace het vrylik inligting en foto’s gedeel.
Bonnie Davidtsz was ná meer as dertig jaar se stilswye oor haar vriendskap met
Ingrid bereid om met my te praat. Soos sy gevrees het, het Bonnie die volle
trauma van haar laaste nag met Ingrid herleef.
“Heel aan die
einde van my navorsing kom ek in aanraking met [die aktrise] Salomi Louw. Uit
pure goedgesindheid deel sy inligting wat ook sý voorheen stilgehou het: haar
ontmoeting met André Brink, Ingrid se teenwoordigheid in hulle verhouding,
hulle kortstondige huwelik en die geboorte van hulle seun.”
Daar is ses
verwysings na akademiese studies, onder meer dié van Oliver Driesse, vir jare
Afrikaans-onderwyser by die Hoërskool Jan van Riebeeck, en die digter Johan van
Wyk.
Metelerkamp
was al by die skryf en samestelling van drie vorige publikasies oor Jonker
betrokke, haar onderwerp het oor jare saam met haar verdiep en ryp geword in al
sy nuanses en skakerings.
Sy weet hoe
om ʼn onderhoudende storie te vertel sodat jy soos op satyn van bladsy tot
bladsy glip en gly, op en af, totdat jy teen die einde hard op jou boude gaan
val en na jou asem snak. Met so baie inligting beskikbaar is dit ʼn moeilike besluit
wat om te belig, maar dit begin uiteraard by haar kinderjare.
Abraham
Jonker haar pa was ʼn opportunistiese manteldraaier wat sonder skroom vinnig van
politieke partye kon verander en ook vlug van humeur was. Hy sou ook later
jaloers op sy eie dogter se skryfwerk wees.
Die outeur WA
de Klerk vertel hy was dikwels gewelddadig. “My vrou onthou baie goed aande in
haar kinderjare, toe Ingrid se moeder [Beatrice] met Anna [Ingrid se suster] as
ʼn kind na hulle gevlug het.”
De Klerk se
vrou, Ena, vertel hoe Beatrice net in haar nagklere by die huis uitgejaag is. Wat
ook in haar geheue bly is toe sy as kind hoor hoe die grootmense oor die
susters se ma gepraat het. “Sy was siek en klaerig en haar man het haar
hardhandig behandel, hy was ongenaakbaar teenoor haar.”
Op ʼn stadium
woon die twee Jonker-dogters met hul grootouers en ma in Durbanville. Hul oupa
sterf in 1938 en daar is nie meer geld om in Durbanville te woon nie.
Die gesin
verval in armoede en trek na die Gordonsbaai-omgewing en het daarna dikwels
getrek, “van huis tot huis, van woonstel tot kamers tot losieshuis.”
Haar ma word
later met borskanker gediagnoseer en haar geestestoestand skoppelmaai. Jonker
se ouma se radio was langs haar bed, met ʼn rooi liggie wat brand as dit aan is.
Sy het die liggie
ʼn ogie genoem en sy het die radio aangeskakel gehou. “Die ogie moenie toegaan
nie,” het sy gesê, “want dan gaan mamma dood.”
Dit is
duidelik Jonker het van vroeg af die hart van ʼn poëet, iemand wat gereeld metaforiese
rou wonde op haar vel dra en ook die pyn van verlies, wat telkemale kom, heftig
vrees.
Laasgenoemde
kom dan ook. Hul ma sterf. Die pa kom haal die kinders by hul sagmoedige ouma
Annie, die persoon vir wie hulle oneindig lief is. Toe hulle in die motor met
die vader klim, draai Ingrid die venster oop.
“Ouma staan
nader en Ingrid gryp na haar hand, sy wíl nie los nie, maar stadig trek die
motor weg,” vertel Anna later.
Die kinders verskeie
traumas verwerk: die egskeiding van hul ouers, die dood van hul oupa, hul ma se
lang siekbed en afsterwe, armoede, en die afskeid van hul ouma. Dit is nie die
einde nie.
Abraham gaan
los die kinders alleen in ʼn losieshuis in Tamboerskloof waar hulle self moet
regkom totdat hy ander planne kan maak. Die vrees en verwarring is tasbaar.
Hulle spaander twee skoolvakansies daar en tussendeur gaan Ingrid en Anna onderskeidelik
skool by Jan van Riebeeck se Laer-en Hoërskool.
Later trek
hulle by Abraham se nuwe huis in Plumstead in, maar sy derde vrou, Lulu Brewis,
haat hulle soos gif. Regdeur hul tienerjare word hulle verneder. Sy het
kinderboeke geskryf, maar glad nie van kinders gehou nie.
ʼn Mens wil
nie al die inligting verraai nie, lesers sal self moet uitvind. Vir daardie
doeleinde snelrol ons die toekom in na ʼn meer volwasse Jonker se lewe.
Sy loop
dramaklasse by Babs Laker, wat ʼn ongelooflike aanvoeling vir die onderliggende
ritmes en verskuilde betekenisse van poësie gehad het. Ongetwyfeld sou die twee
by mekaar aanklank gevind het.
Later werk sy
vir uitgewers as proefleser en ook as reklamebeampte vir skrywers. Op ʼn stadium
ontmoet sy vir Piet Venter, haar aanstaande man, by ʼn partytjie in Seepunt.
Hy is 15 jaar
ouer as sy, het ʼn mooi lyf, bokbaardjie en blonde hare. Hulle het later ʼn
dogter, Simone. Hierdie hoofstukke in haar lewe met hom is ingewikkeld en maak
ʼn draai in Johannsburg.
Haar lewe,
egter, fokus vir ʼn lang ruk op twee plekke in die Kaap: Cheviot Place in
Groenpunt en Sea Girt in Clifton.
In Groenpunt bevind
sy haar gereeld in die geselskap van Jan Rabie en sy vrou Marjorie Wallace wat
gereeld tot laatnag oor bottels Tassenberg met politieke en literêre gesprekke doenig
was.
Dr John
Sonnenberg wat as jong dokter langs hulle gewoon het, vertel Wallace kon
kliphard op Rabie skel, sodat die hele straat haar kon hoor (hierdie is nie in
die boek nie, maar ʼn persoonlike anekdote). Net so gou as wat sy kon raas, het
sy weer vrede gemaak en gekoer soos ʼn duif.
“Dit was
beslis nie ʼn vervelige straat nie,” vertel hy.
Jonker is
veral geestelik aangetrokke tot die bruin skrywers wat sy daar ontmoet, soos
Peter Clarke, PJ Philander en Adam Small. Onthou, in daardie jare was dit
ongehoord vir mense om oor die kleurgrens te sosialiseer, wat nog te sê saam
wyn te drink en op mekaar se skote te sit en gedigte te lees.
Ander
skrywers met wie sy hier gereeld kuier is Abraham H de Vries, Breyten
Breytenbach, Freda Linde, om maar ʼn paar te noem.
In Clifton
woon Uys Krige en Jack Cope. Met laasgenoemde begin sy ʼn uitgerekte verhouding
wat wissel tussen ʼn pure feeverhaal of loutere hel, afhangende van die stadiums
van verval of vernuwing waardeur hulle gaan.
Met die lees
van dié biografie, is dit vir hierdie resensent opvallend hoe sommige
patriargale mans indirek bygedra het tot haar vernietiging.
Sy het ʼn
titsel in die doodsbeker van ʼn paar ontvang: haar pa, Jack Cope by tye, André P
Brink wat haar liederlik misbruik het sodat hy sy boek Orgie kon skryf, soms
ook Pieter Venter, en Jack Cope se twee jong seuns wat haar skandalig verstoot
het.
ʼn Mens kan
die gevolgtrekking maak toe haar lyk daardie nag in Drieankerbaai gevind is,
die vuil hande van sekere menere haar die see help indra het.
Daar was
goeie mans ook, by wie sy veilig kon voel, soos Jan Rabie, Breyten Breytenbach,
Chris Lombard, Uys Krige en perdalks Barend J Toerien.
Metelerkamp
ondersoek ook die rol wat antidepressante en wyn op haar gemoed gehad het.
Jonker sou as sy haar medikasie neem maklik ná een of twee glase handuitruk of
aan die slaap val. Sy was dus nie, soos baie mense bewer, ʼn alkoholis of
dwelmverslaafde nie.
Eksentriek
was sy beslis, soos die keer toe iemand by haar gaan kuier en sy met haar
huishulp se baba op die bed lê, terwyl dié aan haar droë tepel suig. Op ʼn
stadium val al haar pille in ʼn winkel op die vloer.
Sy het gaan
sit en elke een wat sy opgetel het in haar mond gedruk en gesluk. Jonker het
ook gereeld vir vriende voor haar dood vertel: “Ek kan dit nie meer vat nie,
vanaand is die aand.”
Tussendeur is
daar ook ʼn mislukte reis oorsee wat sy met haar prysgeld vir Rook en Oker
aangepak het. Oor hierdie digbundel sê Jack Cope vir haar dit is waarskynlik
die beste werk wat sy ooit sal kan lewer. Dit het haar platgeslaan.
Ernst van
Heerden verwys na “adolessente verse”. André P Brink kritiseer weer haar werk
as vol Anglisismes.
Die hekwagter
[my woorde] oor vrouedigters, DJ Opperman, skryf oor Ontvlugting in ʼn nota:
“Aan die ander kant is die bundel effens skraal – ek bedoel nie bloot die
aantal gedigte nie, maar ook die ervaring wat in hulle tot uiting kom. Miskien
is dit onbillik om nou reeds ʼn groter wêreld te verwag.”
Snaaks dat
Opperman min of meer dieselfde vir Sheila Cussons gesê het, al was sy vroeg
reeds reg vir publikasie. Ook ietwat ironies dat Jonker later internasionale
status sal geniet.
Teen die
einde van haar lewe leef sy in armoede, op meer as een vlak. As ʼn mens oor die
laaste aand van Jonker se lewe lees, voel dit asof jy in ʼn 4D-rolprent sit. Alle
sintuie word ingepan.
Dit is
sekerlik van die mooiste en skrikwekkendste hoofstukke oor een van die mees
tragiese figure in ons letterkunde wat nog ooit geskryf is.
Kry hierdie
boek, dit gaan ʼn versamelstuk word.
–
Herman Lategan is ʼn joernalis van Seepunt.
Friday, 10 May 2019
Wat ’n werk! Om
planne te maak dat die wêreld weet daar is ’n nuwe boek op die mark!
Gerard Scholtz het ’n
lekkerlees-boek saamgestel uit dagboekaantekeninge, herinneringe en sketse van
sy w wêreldwye toer-ervarings. Hemel & See Boeke het dit onlangs gepubliseer
– met die titel DAAR GAAT ONS! Subtitel:
Reise en rampe. Ja, rampe. Want, sê die ervare Gerard, jy gaan nie op ’n
toer sonder dat jy deur ’n ramp getref word nie. Groot of klein.
Dit is te bewonder, Gerard en
sy vrou Anuta se passie vir padvat. Hulle pak elke jaar ’n buitelandse reis aan
– en nie net ’n week of twee se reis nie. Hulle spandeer maande op die verre
paaie, altyd met ’n tema wat rigting gee: op die voetstappe van dié of daai
geskiedkundige figuur (o.a. Napoleon se roete oor die Alpe) of op besoek aan
sekere katedrale, natuurverskynsels . . . Aanvanklik op trapfietse, deesdae op
bromponies.
Op 24 Mei gesels ek met Gerard
oor sy boek in Johannesburg – sien die uitnodiging hierby. En op 25 Mei in
Pretoria, by Uppercase Books in Menlyn. Gerard het Hermanus Pietersfontein-wyne
vir die geleenthede gereël. Sien uitnodigings hierby.
Ek het ook ’n
radio-onderhoud met Gerard gedoen, op die Overbergse Whale Coast FM 91.4, en
daarna ’n stukkie met hom gepraat om hier te plak.
ENIGEEN WAT DIE BOEK WIL
BESTEL, MOET HELGA KONTAK BY hemelenseeboeke@hermanus.co.za of bel by 028 316
4852
Wednesday, 3 April 2019
Hélène Kesting se laaste digbundel, September 2018 - gepubliseer deur Hemel & See
(119 bl.) R90 plus posgeld - stuur e-pos aan hemelenseeboeke@hermanus.co.za
Kabir, ‘n mistikus van die 15de eeu, deel ons mee: “God is die EEN LIEFDE wat die wêreld deurdring, in sy volheid ervaar slegs deur die oë van liefde; hulle wat Hom só ken, deel - al vertel hulle dit nie - die vreugdevolle en onuitspreeklike GEHEIM van die heelal.”
Díe onbegryplike liefde van God is al wat IS. Hy is in my as EK, en in jou as JY. Alles is EEN, alles is God, alles is liefde. Wanneer DIT besef en toegepas word, geniet ons die geluk en vyheid van die kinders van God. Ons bestaan is ‘n EER en ‘n DAAD van liefde.
Hélène Kesting
Friday, 22 March 2019
Vaarwel Elna M Nel
’n Dowwe herinnering aan Elna M Nel, wat verlede week
oorlede is. Eens ’n hoge amptenaar in die departement van kuns en kultuur. Ek wonder
wie seker is van haar aandeel aan die nuwe president Mandela se lees van Ingrid
Jonker se gedig “Die kind”, by sy inhuldiging.
Later jare was Elna digter en dromer, afgetree in Barberton en baie lief om by die Kaapse see te kom kuier.
Hier is ’n gedig van haar wat in 1965 in die tydskrif Sestiger verskyn het:
Poetics
1.
Die groot wynvat is leeg –
dis tyd om te bid;
my koringgod juig by die oes.
11.
Koddige waansin – my stompgekapte vlerk
groei,
groei,
groei
al
vinniger.
Subscribe to:
Posts (Atom)