Follow by Email

Saturday, 11 May 2019

Veels geluk Herman Lategan! Daar wen jy die Veertjie vir die beste resensie!
Hier is jou wenstuk vir weer lees:

Titel: Ingrid Jonker: ʼn Biografie. Skrywer: Petrovna Metelerkamp. Uitgewer: Penguin. Genre: Niefiksie. Prys: R300.

Langtand sinici sal moontlik hul hande saamslaan, sug en sê: “Nie nóg iets oor Ingrid Jonker nie!” Hulle sal ʼn fout maak om dié ensiklopediese biografie te verontagsaam. Dit sal jou ruk.

Die navorsing aan hierdie kolos het reeds in 1994 begin, amper 25 jaar terug. Dit het ʼn intense twee jaar geneem om te skryf, ook om alle feite korrek te staaf. Ten tyde van die neerpen het die joernalis, skrywer, omroeper en uitgewer, Petrovna Metelerkamp, se dogter gesterf.

Agter hierdie magnum opus is daar derhalwe jare der jare se speurwerk, wroeging, deurdruk, en persoonlike pyn. ʼn Mens wil vir Metelerkamp op die skouer klop, sonder om neerbuigend oor te kom, en sê: “Dit was alles die moeite werd. Welgedaan.”

Die boek bestaan uit 437 bladsye en 200 000 woorde. Daar is ʼn voorwoord, inleiding, 16 hoofstukke, bedankings, uitgebreide verwysings en bronne, persoonsregister en ʼn register.

Van die hoofstukke se titels is Kleintyd, Ontuis in Johannesburg, Eensaam in Kaapstad, Sewe dae in Valkenberg, ʼn Leë bruidsbed en Ingrid Jonker wêreldwyd. ʼn Horde voorheen verborge inligting uit onderhoude, asook onbekende briewe en dagboekinskrywings is bygewerk.

Sy het toegang gehad tot ou bandopnames van gesprekke wat die sielkundige LM van der Merwe met Jonker se vriende en familie gehad het kort ná haar dood.

Metelerkamp skryf: “Jan Rabie en Marjorie Wallace het vrylik inligting en foto’s gedeel. Bonnie Davidtsz was ná meer as dertig jaar se stilswye oor haar vriendskap met Ingrid bereid om met my te praat. Soos sy gevrees het, het Bonnie die volle trauma van haar laaste nag met Ingrid herleef.

“Heel aan die einde van my navorsing kom ek in aanraking met [die aktrise] Salomi Louw. Uit pure goedgesindheid deel sy inligting wat ook sý voorheen stilgehou het: haar ontmoeting met André Brink, Ingrid se teenwoordigheid in hulle verhouding, hulle kortstondige huwelik en die geboorte van hulle seun.”

Daar is ses verwysings na akademiese studies, onder meer dié van Oliver Driesse, vir jare Afrikaans-onderwyser by die Hoërskool Jan van Riebeeck, en die digter Johan van Wyk.

Metelerkamp was al by die skryf en samestelling van drie vorige publikasies oor Jonker betrokke, haar onderwerp het oor jare saam met haar verdiep en ryp geword in al sy nuanses en skakerings.

Sy weet hoe om ʼn onderhoudende storie te vertel sodat jy soos op satyn van bladsy tot bladsy glip en gly, op en af, totdat jy teen die einde hard op jou boude gaan val en na jou asem snak. Met so baie inligting beskikbaar is dit ʼn moeilike besluit wat om te belig, maar dit begin uiteraard by haar kinderjare.

Abraham Jonker haar pa was ʼn opportunistiese manteldraaier wat sonder skroom vinnig van politieke partye kon verander en ook vlug van humeur was. Hy sou ook later jaloers op sy eie dogter se skryfwerk wees.

Die outeur WA de Klerk vertel hy was dikwels gewelddadig. “My vrou onthou baie goed aande in haar kinderjare, toe Ingrid se moeder [Beatrice] met Anna [Ingrid se suster] as ʼn kind na hulle gevlug het.”

De Klerk se vrou, Ena, vertel hoe Beatrice net in haar nagklere by die huis uitgejaag is. Wat ook in haar geheue bly is toe sy as kind hoor hoe die grootmense oor die susters se ma gepraat het. “Sy was siek en klaerig en haar man het haar hardhandig behandel, hy was ongenaakbaar teenoor haar.”

Op ʼn stadium woon die twee Jonker-dogters met hul grootouers en ma in Durbanville. Hul oupa sterf in 1938 en daar is nie meer geld om in Durbanville te woon nie.

Die gesin verval in armoede en trek na die Gordonsbaai-omgewing en het daarna dikwels getrek, “van huis tot huis, van woonstel tot kamers tot losieshuis.”

Haar ma word later met borskanker gediagnoseer en haar geestestoestand skoppelmaai. Jonker se ouma se radio was langs haar bed, met ʼn rooi liggie wat brand as dit aan is.

Sy het die liggie ʼn ogie genoem en sy het die radio aangeskakel gehou. “Die ogie moenie toegaan nie,” het sy gesê, “want dan gaan mamma dood.”

Dit is duidelik Jonker het van vroeg af die hart van ʼn poëet, iemand wat gereeld metaforiese rou wonde op haar vel dra en ook die pyn van verlies, wat telkemale kom, heftig vrees.

Laasgenoemde kom dan ook. Hul ma sterf. Die pa kom haal die kinders by hul sagmoedige ouma Annie, die persoon vir wie hulle oneindig lief is. Toe hulle in die motor met die vader klim, draai Ingrid die venster oop.

“Ouma staan nader en Ingrid gryp na haar hand, sy wíl nie los nie, maar stadig trek die motor weg,” vertel Anna later.

Die kinders verskeie traumas verwerk: die egskeiding van hul ouers, die dood van hul oupa, hul ma se lang siekbed en afsterwe, armoede, en die afskeid van hul ouma. Dit is nie die einde nie.

Abraham gaan los die kinders alleen in ʼn losieshuis in Tamboerskloof waar hulle self moet regkom totdat hy ander planne kan maak. Die vrees en verwarring is tasbaar. Hulle spaander twee skoolvakansies daar en tussendeur gaan Ingrid en Anna onderskeidelik skool by Jan van Riebeeck se Laer-en Hoërskool.

Later trek hulle by Abraham se nuwe huis in Plumstead in, maar sy derde vrou, Lulu Brewis, haat hulle soos gif. Regdeur hul tienerjare word hulle verneder. Sy het kinderboeke geskryf, maar glad nie van kinders gehou nie.

ʼn Mens wil nie al die inligting verraai nie, lesers sal self moet uitvind. Vir daardie doeleinde snelrol ons die toekom in na ʼn meer volwasse Jonker se lewe.

Sy loop dramaklasse by Babs Laker, wat ʼn ongelooflike aanvoeling vir die onderliggende ritmes en verskuilde betekenisse van poësie gehad het. Ongetwyfeld sou die twee by mekaar aanklank gevind het.

Later werk sy vir uitgewers as proefleser en ook as reklamebeampte vir skrywers. Op ʼn stadium ontmoet sy vir Piet Venter, haar aanstaande man, by ʼn partytjie in Seepunt.

Hy is 15 jaar ouer as sy, het ʼn mooi lyf, bokbaardjie en blonde hare. Hulle het later ʼn dogter, Simone. Hierdie hoofstukke in haar lewe met hom is ingewikkeld en maak ʼn draai in Johannsburg.

Haar lewe, egter, fokus vir ʼn lang ruk op twee plekke in die Kaap: Cheviot Place in Groenpunt en Sea Girt in Clifton.

In Groenpunt bevind sy haar gereeld in die geselskap van Jan Rabie en sy vrou Marjorie Wallace wat gereeld tot laatnag oor bottels Tassenberg met politieke en literêre gesprekke doenig was.

Dr John Sonnenberg wat as jong dokter langs hulle gewoon het, vertel Wallace kon kliphard op Rabie skel, sodat die hele straat haar kon hoor (hierdie is nie in die boek nie, maar ʼn persoonlike anekdote). Net so gou as wat sy kon raas, het sy weer vrede gemaak en gekoer soos ʼn duif.

“Dit was beslis nie ʼn vervelige straat nie,” vertel hy.

Jonker is veral geestelik aangetrokke tot die bruin skrywers wat sy daar ontmoet, soos Peter Clarke, PJ Philander en Adam Small. Onthou, in daardie jare was dit ongehoord vir mense om oor die kleurgrens te sosialiseer, wat nog te sê saam wyn te drink en op mekaar se skote te sit en gedigte te lees.

Ander skrywers met wie sy hier gereeld kuier is Abraham H de Vries, Breyten Breytenbach, Freda Linde, om maar ʼn paar te noem.

In Clifton woon Uys Krige en Jack Cope. Met laasgenoemde begin sy ʼn uitgerekte verhouding wat wissel tussen ʼn pure feeverhaal of loutere hel, afhangende van die stadiums van verval of vernuwing waardeur hulle gaan.

Met die lees van dié biografie, is dit vir hierdie resensent opvallend hoe sommige patriargale mans indirek bygedra het tot haar vernietiging.

Sy het ʼn titsel in die doodsbeker van ʼn paar ontvang: haar pa, Jack Cope by tye, André P Brink wat haar liederlik misbruik het sodat hy sy boek Orgie kon skryf, soms ook Pieter Venter, en Jack Cope se twee jong seuns wat haar skandalig verstoot het.

ʼn Mens kan die gevolgtrekking maak toe haar lyk daardie nag in Drieankerbaai gevind is, die vuil hande van sekere menere haar die see help indra het.

Daar was goeie mans ook, by wie sy veilig kon voel, soos Jan Rabie, Breyten Breytenbach, Chris Lombard, Uys Krige en perdalks Barend J Toerien.

Metelerkamp ondersoek ook die rol wat antidepressante en wyn op haar gemoed gehad het. Jonker sou as sy haar medikasie neem maklik ná een of twee glase handuitruk of aan die slaap val. Sy was dus nie, soos baie mense bewer, ʼn alkoholis of dwelmverslaafde nie.

Eksentriek was sy beslis, soos die keer toe iemand by haar gaan kuier en sy met haar huishulp se baba op die bed lê, terwyl dié aan haar droë tepel suig. Op ʼn stadium val al haar pille in ʼn winkel op die vloer.

Sy het gaan sit en elke een wat sy opgetel het in haar mond gedruk en gesluk. Jonker het ook gereeld vir vriende voor haar dood vertel: “Ek kan dit nie meer vat nie, vanaand is die aand.”

Tussendeur is daar ook ʼn mislukte reis oorsee wat sy met haar prysgeld vir Rook en Oker aangepak het. Oor hierdie digbundel sê Jack Cope vir haar dit is waarskynlik die beste werk wat sy ooit sal kan lewer. Dit het haar platgeslaan.

Ernst van Heerden verwys na “adolessente verse”. André P Brink kritiseer weer haar werk as vol Anglisismes.

Die hekwagter [my woorde] oor vrouedigters, DJ Opperman, skryf oor Ontvlugting in ʼn nota: “Aan die ander kant is die bundel effens skraal – ek bedoel nie bloot die aantal gedigte nie, maar ook die ervaring wat in hulle tot uiting kom. Miskien is dit onbillik om nou reeds ʼn groter wêreld te verwag.”

Snaaks dat Opperman min of meer dieselfde vir Sheila Cussons gesê het, al was sy vroeg reeds reg vir publikasie. Ook ietwat ironies dat Jonker later internasionale status sal geniet.

Teen die einde van haar lewe leef sy in armoede, op meer as een vlak. As ʼn mens oor die laaste aand van Jonker se lewe lees, voel dit asof jy in ʼn 4D-rolprent sit. Alle sintuie word ingepan.

Dit is sekerlik van die mooiste en skrikwekkendste hoofstukke oor een van die mees tragiese figure in ons letterkunde wat nog ooit geskryf is.

Kry hierdie boek, dit gaan ʼn versamelstuk word.

         Herman Lategan is ʼn joernalis van Seepunt.

Friday, 10 May 2019


Wat ’n werk! Om planne te maak dat die wêreld weet daar is ’n nuwe boek op die mark!

Gerard Scholtz het ’n lekkerlees-boek saamgestel uit dagboekaantekeninge, herinneringe en sketse van sy w wêreldwye toer-ervarings. Hemel & See Boeke het dit onlangs gepubliseer – met die titel DAAR GAAT ONS! Subtitel: Reise en rampe. Ja, rampe. Want, sê die ervare Gerard, jy gaan nie op ’n toer sonder dat jy deur ’n ramp getref word nie. Groot of klein.

Dit is te bewonder, Gerard en sy vrou Anuta se passie vir padvat. Hulle pak elke jaar ’n buitelandse reis aan – en nie net ’n week of twee se reis nie. Hulle spandeer maande op die verre paaie, altyd met ’n tema wat rigting gee: op die voetstappe van dié of daai geskiedkundige figuur (o.a. Napoleon se roete oor die Alpe) of op besoek aan sekere katedrale, natuurverskynsels . . . Aanvanklik op trapfietse, deesdae op bromponies.

Op 24 Mei gesels ek met Gerard oor sy boek in Johannesburg – sien die uitnodiging hierby. En op 25 Mei in Pretoria, by Uppercase Books in Menlyn. Gerard het Hermanus Pietersfontein-wyne vir die geleenthede gereël. Sien uitnodigings hierby.

Ek het ook ’n radio-onderhoud met Gerard gedoen, op die Overbergse Whale Coast FM 91.4, en daarna ’n stukkie met hom gepraat om hier te plak.



ENIGEEN WAT DIE BOEK WIL  BESTEL, MOET HELGA KONTAK BY hemelenseeboeke@hermanus.co.za of bel by 028 316 4852