Monday 3 September 2018




Wat 'n verrassing om in Lydenburg by die begraafplaas te kom en dit so mooi versorg te vind! Vooraf het ek gedink ons het gewapende beskerming daar nodig, maar neef Johan Steyn sê nee: Dit is veilig en AfriForum maak skoon en netjies.

My oupa, Willie Steyn, is daar begrawe – Boereheld wat in die hawe van Ceylon uit Britse aanhouding ontsnap het om weer te kan veg, Hy het later sy jongste seun, Vladimir Petroff, vernoem na die Rus wat hom uit die see gered het. 

Nader aan die ingang van die begraafplaas is die graf van my ouma, Aletta. My broer, Van Zyl (Vladimir Van Zyl Steyn) se as is in haar graf, sy naam op ’n blokkie graniet. Van Zyl was 21 toe hy in ’n motorongeluk gesterf het. *

Dankie AfriForum, vir die instandhouding van die begraafplaas. Dit is glo deel van hulle Rus in Vrede-veldtog.

*Die enigste van Steyn-man met my oupa se bloed was Johan Steyn, ’n regter en ’n baron, wat einde verlede jaar in Engeland oorlede is. Jean Meiring het in die tydskrif Advocate ’n lang stuk oor hom geskryf.




Die digter Hélène Kesting, gebore 1928, is verlede week oorlede.
Hélène het veral  bekend geword vir haar mistieke gedigte, waarvan talle in die vorm van haikoes gepubliseer is. Benewens die bundels Skip na die son (Tafelberg 1975) en Klein akkoord: 100 Haikoes (Tafelberg 1979) het twee bundels met haar gedigte in Engels verskyn: Atom of Love (Hemel & See 2001) en Triumph of the Stars (Hemel & See 2017).
Haar gedigte is in Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (Human & Rousseau 1992) en Voorspraak (Tafelberg 1994) opgeneem.
Haar haikoes het selfs in Nederland in ’n versamelbundel verskyn en van haar gedigte is deur Arthur Wegelin getoonset. Hulle is ook in Tokyo, New York en Londen gepubliseer in The Haiku Seasons: Poetry of the Natural World deur William J. Higginson (1996) en Haiku World: An International Poetry Almanac deur William J. Higginson (1997).






Glo

Om te glo
is om in ‘n perkelose dimensie:
te dink:
sonder logika
en sintuiglike bewys

Om te glo is om ingelyf te wees:
om te weet:
Allesdeurdringende Liefde
bied aan
om deur dik en dun
jou allerregterhand te wees