Ons Gen-X’ers het ’n gesamentlike “Sjoe”
geuiter oor dié vordering in aanlyn tegnologie. Van vroeg af het doemprofete op
hul perdjies gespring en die dood van boeke aangekondig.
Hulle was nie heeltemal verkeerd nie.
Kindles het gehelp vir die ergste pyn wat gekom het toe die boekbedryf opgetrip
raak. Selfpublisering het ’n "ding" geword en het honderde boeke die
lig laat sien waarvoor ons as lesers baie dankbaar is.
Die boekbedryf het so amper sy alie gesien,
terwyl verkope getuimel het. Tegnologie het boeke probeer versmoor, en “Sjoe”,
dit was amper.
Petrovna Metelerkamp het met haar nuwe
boek, “Sjoe!”, belangstelling in lekker storievertelling in papierboekformaat
terug op die voorste brander geplaas. En meer as dit, sy het sommer ook die WWW
op inspirerende manier terug in sy hoek gebliksem.
Hoe doen sy dit? Soos sy skryf oor haar
lewe as ’n joernalis, amper-boer en ontmoeter van internationale bedrogpleërs,
kleur sy hierdie vinger-lek-lekker-stories in met QR-kodes wat die leser na ’n
webtuiste neem om al die foto's te sien wat by daardie hoofstuk aansluit.
Sien, dit is nou omgekeer. Koop die
papierweergawe van die boek en beleef hom saam met die digitale foto's.Dis
amper soos die koerante wat Harry Potter gelees het waarin die foto's lewend
was. Slaan “Sjoe!” oop en bevind jouself op perron 9 3/4 op pad na Hogwarts
Die koste-implikasies van op glanspapier
druk en by die boek invoeg is so astronomies dat dit die koopprys van die boek
ver buite die bereik van enige boekvraat se beursie sou plaas. Met hierdie
meesterstuk van ’n boek saam met die foto's aanlyn skep Petrovna ’n nuwe
geleentheid vir diegene wat foto's in hul boeke wil opneem.
“Sjoe!” baan ’n nuwe weg vir hedendaagse
boeke. Een wat hopelik na meer verkope sal lei.
Ons het almal stories, maar glo dit vry,
ons s'n is nie so interessant soos Petrovna s'n nie.
Lucas Maree het geskryf: “My kiekies is
bewyse van die feit dat ek ook daar was, ’n prentjiekommentaar wat my beaam.”
Dankie Helga, Petrovna en Hemel&See vir
jul harde werk om Afrikaans en boeke nuwe
fut te gee.
No comments:
Post a Comment