Wednesday, 3 April 2019



Hélène Kesting se laaste digbundel, September 2018 - gepubliseer deur Hemel & See 
(119 bl.) R90 plus posgeld - stuur e-pos aan hemelenseeboeke@hermanus.co.za 

Kabir, ‘n mistikus van die 15de eeu, deel ons mee: “God is die EEN LIEFDE wat die wêreld deurdring, in sy volheid ervaar slegs deur die oë van liefde; hulle wat Hom só ken, deel - al vertel hulle dit nie - die vreugdevolle en onuitspreeklike GEHEIM van die heelal.”
Díe onbegryplike liefde van God is al wat IS. Hy is in my as EK, en in jou as JY. Alles is EEN, alles is God, alles is liefde. Wanneer DIT besef en toegepas word, geniet ons die geluk en vyheid van die kinders van God. Ons bestaan is ‘n EER en ‘n DAAD van liefde.



Hélène Kesting







Friday, 22 March 2019

Vaarwel Elna M Nel










’n Dowwe herinnering aan Elna M Nel, wat verlede week oorlede is. Eens ’n hoge amptenaar in die departement van kuns en kultuur. Ek wonder wie seker is van haar aandeel aan die nuwe president Mandela se lees van Ingrid Jonker se gedig “Die kind”, by sy inhuldiging. 
Later jare was Elna digter en dromer, afgetree in Barberton en baie lief om by die Kaapse see te kom kuier.

Hier is ’n gedig van haar wat in 1965 in die tydskrif Sestiger verskyn het:



Poetics

1.

Die groot wynvat is leeg –

dis tyd om te bid;

my koringgod juig by die oes.



11.

Koddige waansin – my stompgekapte vlerk

groei,

groei,

groei

                al vinniger.

Wednesday, 19 September 2018


‘n Verrassing in die pos – uit Lydenburg kom knipsels uit koerante en ‘n boek van Gerda Whitehorn. Die knipsels vertel van die Ingrid Jonker-gesprek in die plaaslike Café Crust, waar ‘n groot groep van die dorp se lesers opgedaag het. Gerda was die sameroeper. Sy stuur die boek, Rou vrugte – ‘n Reisjoernaal van die rou-pad, waarmee sy mense wat deur die pyn van dood aangeraak is, bemoedig om dagboek te hou van die reis.
Gerda skryf soos sy praat, in die hart van die leser in. Ek glo enige bedroefde mens sal krag vind in haar eerlike vertelling van die pad wat sy moes loop van die oomblik toe sy hoor sy het haar man verloor. Bel haar by 079 515 7799.




Van Mosselbaai kom daar ook ‘n boek: Hoë hawe in vlakte, deur Annalie Calitz. By die 200 bladsye met dubbel soveel gedigte. Sommiges kort, soos:

o God van die branders
o God vang die branders
hulle gryp my

Annelie skryf aangrypende verse. En slim.

Hy wat my liggaam gemaak het
oorgetrek het met vel
Hy tik my naam
op ‘n spierwit rekenaar
Hy wat save
delete nooit
ooit

Annelie deel haar lewe in die eerste persoon, Baie van die gedigte – mens kan amper sê gesprekke – het datums by. Kry meer inligting van haar by 082 447 6319.







Monday, 3 September 2018




Wat 'n verrassing om in Lydenburg by die begraafplaas te kom en dit so mooi versorg te vind! Vooraf het ek gedink ons het gewapende beskerming daar nodig, maar neef Johan Steyn sê nee: Dit is veilig en AfriForum maak skoon en netjies.

My oupa, Willie Steyn, is daar begrawe – Boereheld wat in die hawe van Ceylon uit Britse aanhouding ontsnap het om weer te kan veg, Hy het later sy jongste seun, Vladimir Petroff, vernoem na die Rus wat hom uit die see gered het. 

Nader aan die ingang van die begraafplaas is die graf van my ouma, Aletta. My broer, Van Zyl (Vladimir Van Zyl Steyn) se as is in haar graf, sy naam op ’n blokkie graniet. Van Zyl was 21 toe hy in ’n motorongeluk gesterf het. *

Dankie AfriForum, vir die instandhouding van die begraafplaas. Dit is glo deel van hulle Rus in Vrede-veldtog.

*Die enigste van Steyn-man met my oupa se bloed was Johan Steyn, ’n regter en ’n baron, wat einde verlede jaar in Engeland oorlede is. Jean Meiring het in die tydskrif Advocate ’n lang stuk oor hom geskryf.




Die digter Hélène Kesting, gebore 1928, is verlede week oorlede.
Hélène het veral  bekend geword vir haar mistieke gedigte, waarvan talle in die vorm van haikoes gepubliseer is. Benewens die bundels Skip na die son (Tafelberg 1975) en Klein akkoord: 100 Haikoes (Tafelberg 1979) het twee bundels met haar gedigte in Engels verskyn: Atom of Love (Hemel & See 2001) en Triumph of the Stars (Hemel & See 2017).
Haar gedigte is in Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (Human & Rousseau 1992) en Voorspraak (Tafelberg 1994) opgeneem.
Haar haikoes het selfs in Nederland in ’n versamelbundel verskyn en van haar gedigte is deur Arthur Wegelin getoonset. Hulle is ook in Tokyo, New York en Londen gepubliseer in The Haiku Seasons: Poetry of the Natural World deur William J. Higginson (1996) en Haiku World: An International Poetry Almanac deur William J. Higginson (1997).






Glo

Om te glo
is om in ‘n perkelose dimensie:
te dink:
sonder logika
en sintuiglike bewys

Om te glo is om ingelyf te wees:
om te weet:
Allesdeurdringende Liefde
bied aan
om deur dik en dun
jou allerregterhand te wees



Wednesday, 16 May 2018

Terugvoer

Reaksie op die Ingrid Jonker-biografie is dankdiehere sover gunstig. Dit laat my dink aan Ingrid se eie woorde, nadat sy twee biografieë van haar geliefde digter, Dylan Thomas, gelees het en steeds meer wou weet: “I’d like to read a full, good book about him.”

Louis Esterhuizen: Petrovna Metelerkamp se biografie oor Ingrid Jonker is enorm; uiteraard bevat dit heelwat wat reeds bekend is, maar daar is soveel nuwe materiaal en bronne wat sy ontgin het. Sal die outeur en uitgewer my dit vergewe indien ek die volgendet sê? Die boek het my geskok vanweë die unieke mens wat Ingrid Jonker was . . .die feit dat Petrovna toegang gekry het tot [Jack Cope] se dagboeke onderlê onder andere alles wat "nuut" is in hierdie lewensverhaal, wat strek van Ingrid Jonker se geboorte tot haar nalatenskap soos dit steeds vandag daaruit sien. Inderdaad 'n formidabele studie. Welgedaan, Petrovna.

Louise Lipshitz, Graaff-Reinet: Hoera, hoera vir wat jy weer eens vermag het vir onse Ingrid en baie geluk met 'n puik onderhoud daaroor die afgelope Woensdagaand op Skrywers en Boeke! Ek het die boek - soos al jou ander Ingrid-boeke - baie geniet. Veral die nuwe inligting wat jy gekry het deur Salomé Louw, Bonnie Davidtz en die dagboeke van Jack Cope (en André P Brink se vertad) het my aan die hart geruk. Ek dink nou is die absoluut FINALE biografie oor IJ geskryf: jy het AL die moontlike inligting wat oor haar beskikbaar is, gekry!

Deon Swanepoel: Wat 'n boek! Ek kon dit nie neersit nie. Hierdie biografie is nie vir net eenmaal se lees nie. Jy sal weer en weer wil lees. 'n Nuwe verstaan oor wie en wat Ingrid Jonker was is vir my nou meer duidelik. Ook Uys Krige, Jan Rabie en André P Brink verstaan ek beter. Van Brink sal ek liefs niks sê nie en maar my opinie vir myself hou. Dankie vir 'n besonderse biografie Petrovna Metelerkamp. Hierdie mens Ingrid Jonker lewe weer, en gans anders as wat ek en duisende ander dalk voorheen geglo en gedink het. My reise na Gordonsbaai, Clifton en Drieankerbaai lê nou voor, ek wil haar gaan ervaar en voel en hoor.

Juanette Menderoi Ek het ook hierdie boek gelees en weer gelees... ek vrek oor Ingrid!!

Isa Steynberg: Baie dankie hiervoor! Dankie Petrovna vir 'n kosbare nalatenskap.

Chrisna Van Rensburg: Naas die fotobiografie oor Ingrid, wat in 2003 verskyn het, het Petrovna nou 'n pragboek oor Ingrid se lewe uitgebring, ’n regte volledige biografie: Ingrid Jonker: 'n biografie . . . Die boek lees vloeiend en is 'n aanwins vir jou boekrak!

Belangrik en aandoenlik is Ingrid se dogter, Simone, se kommentaar:

I have never been able to talk about my feelings about my mother, besides the fact that I am totally in awe of her beautiful poetry. After reading Petrovna’s new book called Ingrid Jonker about what really went on in Clifton, I can only say I am heartbroken. At least now I can say it. I. developed flu immediately after I finished the book.


En haar man, Ernesto Garcia Marques: 

Wow, really impressed with your dedicated research on Ingrid Jonker, Petrovna, and that the world can find out the whole truth about one if not THE best lady poet in the world. Everything you ever wanted to know about Ingrid Jonker is in this book, the good the bad and the ugly and it couldn't have been easy for Simone to read, but now she is free so it needed to be done. Congratulations Petrovna, and read this book people because it is essential to know why Ingrid was such a great poet despite having such a tragic life....

Thursday, 10 May 2018



Naomi Bruwer is ’n bekende gesig by wat al wat ’n letterkunde-geleentheid is – altyd met ’n glimlag, notaboekie, kamera om die nek, ywerig besig met skrywers en boeke. So is sy al byna 13 jaar besig om lesers van LitNET met nuus, foto’s en selfs video’s te voer. Dankie vir hierdie een, Naomi!