Monday, 22 September 2025

SJOE! Ervarings van 'n leeftyd



KOMMENTAAR VAN DE WAAL STEYN
 

By die draai van die millenium was ons half geskok toe ons besef jy kan jou hele stel ensiklopedieë in die kas toesluit, want jy kan alles nou sien en soek op ’n CD-ROM-skyf – met foto's en alles.

Ons Gen-X’ers het ’n gesamentlike “Sjoe” geuiter oor dié vordering in aanlyn tegnologie. Van vroeg af het doemprofete op hul perdjies gespring en die dood van boeke aangekondig.

 

Hulle was nie heeltemal verkeerd nie. Kindles het gehelp vir die ergste pyn wat gekom het toe die boekbedryf opgetrip raak. Selfpublisering het ’n "ding" geword en het honderde boeke die lig laat sien waarvoor ons as lesers baie dankbaar is.

 

Die boekbedryf het so amper sy alie gesien, terwyl verkope getuimel het. Tegnologie het boeke probeer versmoor, en “Sjoe”, dit was amper.

 

Petrovna Metelerkamp het met haar nuwe boek, “Sjoe!”, belangstelling in lekker storievertelling in papierboekformaat terug op die voorste brander geplaas. En meer as dit, sy het sommer ook die WWW op inspirerende manier terug in sy hoek gebliksem.

Hoe doen sy dit? Soos sy skryf oor haar lewe as ’n joernalis, amper-boer en ontmoeter van internationale bedrogpleërs, kleur sy hierdie vinger-lek-lekker-stories in met QR-kodes wat die leser na ’n webtuiste neem om al die foto's te sien wat by daardie hoofstuk aansluit.

 

Sien, dit is nou omgekeer. Koop die papierweergawe van die boek en beleef hom saam met die digitale foto's.Dis amper soos die koerante wat Harry Potter gelees het waarin die foto's lewend was. Slaan “Sjoe!” oop en bevind jouself op perron 9 3/4 op pad na Hogwarts

 

Die koste-implikasies van op glanspapier druk en by die boek invoeg is so astronomies dat dit die koopprys van die boek ver buite die bereik van enige boekvraat se beursie sou plaas. Met hierdie meesterstuk van ’n boek saam met die foto's aanlyn skep Petrovna ’n nuwe geleentheid vir diegene wat foto's in hul boeke wil opneem.

“Sjoe!” baan ’n nuwe weg vir hedendaagse boeke. Een wat hopelik na meer verkope sal lei.

 

Ons het almal stories, maar glo dit vry, ons s'n is nie so interessant soos Petrovna s'n nie.

 

Lucas Maree het geskryf: “My kiekies is bewyse van die feit dat ek ook daar was, ’n prentjiekommentaar wat my beaam.”

 

Dankie Helga, Petrovna en Hemel&See vir jul harde werk om Afrikaans en boeke nuwe  fut te gee.